Nuus 11:00
BULLETIN 3 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering verwerp die bewerings van ATM se leier oor haar rol in die Artikel 89- proses
# Die Malawiese regering gaan sy burgers help wat Suid-Afrika wil verlaat te midde van anti-immigrasiegeweld
# En sokker: Bafana Bafana se visum-drama is uiteindelik verby en die hulpafrigter is op pad na Mexiko
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê die leier van die African Transformation Movement se bewerings teen haar is vals, ongegrond en lasterlik. Vuyo Zungula beweer Didiza het president Cyril Ramaphosa se prokureurs ontmoet oor die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Phala Phala-saak. Hy het haar gevra om te onttrek aan alle sake wat verband hou met die ampsklagkomitee. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, sê Didiza het elke opdrag wat uit die uitspraak voortspruit, nougeset nagekom:
# Die Malawiese Ministerie van Buitelandse Sake en Internasionale Samewerking begin binnekort met die vrywillige repatriasie van sy landsburgers wat hulp gevra het om Suid-Afrika te verlaat. Dit volg nadat betogings teen buitelanders die afgelope dae oor die land versprei het, met uitbarstings in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. Dit het daartoe gelei dat Ghana verlede week sowat 300 van sy burgers ontruim het, met Nigerië wat ook repatriasieplanne aangekondig het. Die Malawiese regering het die Suid-Afrikaanse regering geprys vir die beslissende stappe wat gedoen is om sy kommer teen te werk.
# Die Vryheidsfront Plus sê die voortgesette verspreiding van bek-en-klouseer in Gauteng en die feit dat baie vee in die provinsie nie gereguleer of geregistreer nie, plaas die landbousektor in ernstige gevaar. Die regering wil teen die einde van die jaar 80-persent van Suid-Afrika se nasionale kudde inent. Jaco Mulder van die party sê die Landboudepartement se grootste uitdaging is die onvermoë om die beweging en oorsprong van alle lewende hawe te monitor en na te gaan:
Nuus uit die buiteland:
# Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê wanfunksionering in Iran se regime vertraag die proses om ‘n moontlike ooreenkoms te bereik. Voortslepende botsings tussen Israel en Hizbollah dreig om onderhandelings tussen Amerika en Iran te laat ontspoor. Iran het gister Amerikaanse basisse in die streek en ʼn vaartuig naby die Seestraat van Hormoes aangeval weens Amerika se aanvalle op ʼn olietenkskip met Iranse bande en aanvalle op die Qeshm-eiland. Rubio sê onderhandelings oor Iran se kernprogram kan maande duur:
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging sê Bafana Bafana se hulpafrigter, Helman Mkhalele, en veiligheidshoof, Mdu Mbatha, het vertrek om by die res van die Wêreldbeker-groep in Mexiko aan te sluit nadat hul visums uiteindelik toegestaan is. Die Amerikaanse konsulaat in Johannesburg het hul aanvanklike aansoeke om onbekende redes afgekeur. SAFA sê die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het ingegryp, waarna albei beamptes visums ontvang het. Bafana Bafana speel Vrydag ʼn vriendskaplike opwarmingswedstryd teen Jamaika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-850-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-461-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….