Nuus 09:00
BULLETIN 3 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Malawiese regering help sy burgers wat Suid-Afrika wil verlaat
# Die MK-party skors sy hoofsweep te midde van ‘n korrupsie-ondersoek
# En rugby: Glasgow verwag ‘n groot aanslag deur die Bulle
# Die Malawiese ministerie van Buitelandse Sake en Internasionale Samewerking sê hy begin binnekort met ‘n vrywillige repatriasie-oefening vir sy landsburgers wat hulp gevra het om Suid-Afrika te verlaat. Dit volg nadat betogings teen buitelanders die afgelope dae oor die land versprei het, met uitbarstings in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. Die betogings het daartoe gelei dat Ghana verlede week ongeveer 300 van sy landsburgers ontruim het, met Nigerië wat ook repatriasieplanne aangekondig het. Die Malawiese regering het die Suid-Afrikaanse regering geprys vir die beslissende stappe wat geneem is om sy kommer aan te spreek.
Die regering het intussen die dodelike teen-immigrasiegeweld veroordeel wat die naweek in Mosselbaai in die Wes-Kaap uitgebreek het. ‘n Suid-Afrikaner en twee Mosambiekers is dood tydens gewelddadige betogings teen buitelanders in die informele nedersetting, Asla-park, van KwaNonqaba, waar 55 hutte aan die brand gesteek is. Vyf verdagtes is gearresteer. Die regering se adjunk-woordvoerder, William Baloyi, waarsku landsburgers om nie ongekontroleerde berigte te versprei wat paniek en verwarring kan veroorsaak nie:
# Die MK-party het sy hoofsweep, Mmabatho Mokoena-Zondi, met onmiddellike ingang geskors hangende die uitslag van ʼn interne ondersoek na korrupsie-bewerings. Sy is verlede week in hegtenis geneem, het in die hof verskyn op aanklagte van bedrog en afpersing en is op borgtog van 30-duisend-rand vrygelaat. Volgens die Valke het sy tussen Augustus en Desember 2024 vier navorsers gewerf, hulle gedwing om 50- tot 60-persent van hul salarisse aan haar te betaal en aangevoer dis vir Jacob Zuma se regskoste. Mokoena-Zondi het na bewering 200-duisend-rand ontvang. Die MK-party het Philasande Mkhize as hoofsweep aangestel.
# Rugby: Die Glasgow Warriors verwag ‘n intense fisiese aanslag in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-halfeindstryd teen die Bulle. Die Skotte het die Pretoria-span twee keer hierdie seisoen geklop, maar albei wedstryde was tot aan die einde in die weegskaal. Die hulpafrigter van Glasgow, Nigel Carolan, beskryf die wedstryd as ‘n massiewe geleentheid vir hulle teen taai teenstanders. Hy sê hulle moet net hul voete op die grond hou en beheer wat hulle kan. Die wedstryd word op Murrayfield in Edinburgh gespeel en skop om 3:30 Saterdagmiddag af.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-282-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-486-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 96-dollar-26-sent per vat.
# En ten slotte, die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n ernstige vlak 8-weerwaarskuwing uitgereik vir dele van die Wes- en Oos-Kaap vir vandag en môre. Die jongste waarskuwing volg na verwoestende storms in die Wes-Kaap verlede maand wat die lewens van elf mense geëis en meer as 83-duisend geraak het. Die SA Weerdiens se voorspeller, Tokelo Chiloane, sê reënval van tussen 50 en 90 millimeter word verwag oor die Sentrale Karoo, westelike dele van die Tuinroete-distrik en die Swellendam Munisipaliteit:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….