Nuus 18:00
BULLETIN 2 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa sê die Presidensie se begrotingsfokus is op ekonomiese hervorming en werkskepping
# Die Wes-Kaapse polisie ondersoek noodlottige botsings in ‘n informele nedersetting in Mosselbaai
# En, die African People’s Convention vra strenger optrede teen xenofobie en taaldiskriminasie
# President Cyril Ramaphosa sê die Presidensie sal fokus op die verbetering van koördinering regoor die regering om ekonomiese groei te bevorder, werk te skep, en armoede te verminder. Hy het die Presidensie se begrotingspos vir 2026/2027 in die Parlement ter tafel gelê, waarin hy die Presidensie se rol in die belyning van departemente en staatsentiteite uiteensit om beter lewering van nasionale prioriteite te verseker. Ramaphosa sê die fokus sluit ook die versterking van aanspreeklikheid in, die verbetering van besluitneming, en die ondersteuning van ‘n meer bekwame en etiese staat:
# Polisie in die Wes-Kaap ondersoek die moord op drie mense ná gewelddadige onrus in Mosselbaai. Twee Mosambiekse burgers is dood nadat geweld Vrydag uitgebreek en ongeveer 55 plakkershutte aan die brand gesteek is. Die liggaam van ‘n 18-jarige Suid-Afrikaanse man is Saterdag gevind. Vyf verdagtes is in hegtenis geneem. Polisiewoordvoerder, Thembisile Patekile, vra inwoners om kalm te bly en vreedsaam te betoog terwyl die ondersoek voortduur:
# Die African People’s Convention veroordeel die moord op Nhlamulo Sambo in Mosselbaai en beweer hy is geteiken omdat hy Xitsonga gepraat het. Freddy Mbhandze van die party sê die voorval ondermyn Pan-Afrikaanse waardes en die reg van alle Afrikane om vry van diskriminasie en geweld te leef. Die APC doen ‘n beroep op respek vir kulturele diversiteit. Mbhandze sê Afrika-leiers moet meer sekuriteit vir burgers skep terwyl hulle xenofobiese aanvalle en taalgebaseerde diskriminasie veroordeel:
# ‘n Kenner van digitale reg, Emma Sadleir, waarsku dat meer Suid-Afrikaanse kinders hulle tot kunsmatige intelligensie-kletsbotte wend vir geselskap, met sommige wat hulle as goeie vriende beskou. Sy sê oormatige skermtyd, K-I-gedrewe platforms en vals-tegnologie hou toenemende gevare in vir kinders se ontwikkeling en welstand. Sadleir verwelkom die Departement van Basiese Onderwys se planne om skermtyd-riglyne vir jong kinders in te stel, terwyl sy vra vir strenger voorsorgmaatreëls om minderjariges te beskerm teen die skadelike gevolge van kunsmatige intelligensie.
# Sokker: ‘n Toename van meer as vier-persent in toeskouers is aangeteken in die Spaanse top-liga, LaLiga, die pas-afgelope seisoen. Die meer as 11,6-miljoen aanhangers wat wedstryde bygewoon het, is ‘n rekord vir die kompetisie, terwyl ‘n nuwe rekord van 84,9-persent in stadion-bywoning bereik is. Dit is bereik al het verskeie stadions beperkings op toeskouers ingestel tydens opknappingswerk, soos Camp Nou van Barcelona en Coliseum van Gerafe. Barcelona is verlede maand tot kampioen gekroon toe hulle Real Madrid in die eindstryd verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-442-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-505-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 94-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….