Nuus 13:00
BULLETIN 2 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Hooflanddros van Mpumalanga tree af ná die omstrede Sibanyoni-uitspraak
# OUTA waarsku tariefverhogings kan nie gebruik word om korrupsie en wanbestuur in munisipaliteite te versteek nie
# En rugby: Die Blitsbok Tristan Leyds is benoem vir ‘n Sewes-toekenning
# Die hooflanddros van Kwaggafontein in Mpumalanga, Tuletu Tonjeni, het afgetree slegs dae nadat ‘n klagte by die Landdroste-kommissie ingedien is oor haar besluit om die saak teen die taxi-hoof Joe Sibanyoni en sy medebeskuldigdes van die rol te skrap. Sy het die saak van afpersing- en geldwassery verlede maand teruggetrek nadat die aanklaer nie opgedaag het nie. Regsbronne sê Tonjeni se aftrede beteken die kommissie kan nie meer tugstappe instel nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag het intussen die saak in Delmas heropen, met verrigtinge wat in September sal hervat.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê plaaslike regeringshervorming dwing inwoners om te betaal vir munisipale mislukking. Die organisasie het sy finale kommentaar oor die hersiene konsep-witskrif oor plaaslike regering ingedien. OUTA vra raadslede moet aan basiese bevoegdheid-standaarde voldoen en politieke leiers aanspreeklik gehou word vir die gevolge vir korrupsie, inmenging en swak prestasie. Julius Kleynhans van OUTA sê die witskrif is ‘n kritieke geleentheid om munisipaliteite voor die munisipale verkiesing te herstel:
Nuus uit die buiteland:
# Die direkteur-generaal van die Internasionale Atoomenergie-agentskap, Rafael Grossi, sê 2015 se kernooreenkoms met Iran is nie meer werkbaar nie. Teheran se kern- en tegnologiese vermoëns het aansienlik gevorder sedert die vorige ooreenkoms bereik is. Iran het sowat elf ton lae-verrykte uraan na Rusland verskeep in ruil vir natuurlike uraan, wat ‘n belangrike deel van die ooreenkoms vorm. Grossi het aan Al Jazeera gesê die volgende kernooreenkoms sal anders lyk:
# Rugby: Die Springbok-sewes-ster Tristan Leyds is benoem vir die Mans-Sewesrugbyspeler van die Jaar-toekenning, saam met Henry Hutchison van Australië en Vuiviwa Naduvalo van Fidji. Die benoemings in die Mans-Nuweling van die Jaar-kategorie is Kele Lasaqa van Nieu-Seeland, die Australiër Harry Wilson en Finley Lloyd-Gilmour van Brittanje. Maddison Levi van Australië, die Nieu-Seelander Jorja Miller en Ariana Ramsey van Amerika is aanspraakmakers op die titel van Vroue-speler van die Jaar. Die wenners sal Sondag gekroon word na die laaste Wêreldkampioenskaps-toernooi in Bordeaux, Frankryk.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-328-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-528-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-58-sent per vat.
# En ten slotte: Die ANC-Jeugliga sê hy bring hulde aan die dapper gees van die jongmense van 1976 wat opgestaan het teen onreg en geveg het vir ‘n beter toekoms. Die 50ste herdenking van die Soweto-opstand vind oor twee weke plaas. Duisende studente het destyds betoog teen die Bantoe-onderwysstelsel en die verpligte gebruik van Afrikaans in skole. Die liga se woordvoerder, Sindiswa Scheepers, sê hierdie belangrike mylpaal bied ‘n geleentheid vir Suid-Afrikaners om hulde te bring aan die moedige geslag van 1976 en hul blywende uitwerking op die land se geskiedenis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….