Nuus 12:00
BULLETIN 2 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ampsklagkomitee fokus nou op sy werkprogram
# Die Weerdiens waarsku oor nog oorstromings in die Wes- en die Oos-Kaap
# En rugby: Die beseringsgeteisterde Stormers word versterk deur die terugkeer van twee sleutelspelers vir die VRK-halfeindstryd
# Die Parlement sê die ampsklagkomitee wat president Cyril Ramaphosa ondersoek, sal nou fokus op die bepaling van sy werkprogram en die oorweging van die volgende stappe in die ondersoekproses. Dit volg nadat Makashule Gana van Rise Mzansi gister as voorsitter aangestel is. Die Parlement sê hy sal leiding aan die komitee gee, toesig hou oor verrigtinge, beraadslagings lei en verseker die werk is in ooreenstemming met die Grondwet, die reëls van die Nasionale Vergadering en die komitee se mandaat kragtens Artikel 89 van die Grondwet.
# Forum for South Africa sê die regering het geen geloofwaardige plan om brandstofpryse te bestendig nie, terwyl petrolpryse om middernag met een-rand-43-sent per liter styg. Die Nasionale Tesourie herstel vir Junie 75-sent per liter van die brandstofheffing-verligting wat hy vroeër vanjaar op petrol- en dieselpryse ingestel het. FOSA se woordvoerder, Tebogo Mashilompane, sê die voortslepende styging en onbestendigheid is ‘n regstreekse gevolg van swak leierskap en beleidsbesluite:
# Gun Free South Africa sê vuurwapenlisensie-aansoeke het skerp toegeneem, met kommer oor misdaad, geweld en persoonlike veiligheid wat meer Suid-Afrikaners aanmoedig om vuurwapens te besit. Die Wysigingswetsontwerp op Vuurwapenbeheer, wat voorstel selfverdediging moenie meer as ‘n geldige rede vir die besit van ‘n vuurwapen beskou word nie, is terugverwys vir verdere raadpleging ná openbare teenkanting. Gun Free SA se uitvoerende direkteur, Stanley Maphosa, sê die besit van ‘n vuurwapen waarborg nie noodwendig meer veiligheid nie, en beklemtoon die belangrikheid van veilige vuurwapen-berging.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku oor nog moontlike oorstromings in die Wes- en die Oos-Kaap nadat reën vir dele van dié provinsies voorspel is. Die weervoorspeller Samkelisiwe Thwala sê deurweekte grond en vol riviere verhoog die gevaar van plaaslike oorstromings, veral in laagliggende en kwesbare gebiede. Sy maan inwoners om waaksaam te bly, oorstroomde paaie en waterweë te vermy en aandag te gee aan weervoorspellings:
# Rugby: Die Stormers het ‘n groot hupstoot gekry voor Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-halfeindstryd teen Leinster in Dublin. Die slot Ruben van Heerden is terug in die groep na harsingskudding en die senter Dan du Plessis na ‘n kniebesering. Die Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu en die vleuel Seabelo Senatla is beseer tydens die kwarteind-oorwinning oor Cardiff. Die Stormers se voorspeler-afrigter, Rito Hlungwani, verwag ‘n moeilike wedstryd teen Leinster:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-843-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-533-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….