Nuus 08:00
BULLETIN 2 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau wil hê die VSA moet bewyse lewer van onbillike handelspraktyke en dwangarbeid in Suid-Afrika
# Eskom stel sy energie- en elektrisiteitsvoorsieningskontrakte aan AfriForum vry
# En tennis: Sabalenka en Berrettini is deur na die Franse Ope-kwarteindronde
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê hy het Amerika versoek om bewyse te lewer dat Suid-Afrika goedere invoer wat deur dwangarbeid gemaak is. Amerika se handelsverteenwoordiger, Jamieson Greer, het 60 lande geïdentifiseer wat vermoedelik skuldig is aan onregverdige handelspraktyke en die gebruik van dwangarbeid. Dit sluit Suid-Afrika, Kanada, Australië en die Verenigde Koninkryk in. In ‘n geskrewe antwoord op ʼn parlementêre vraag van die MK-party het Tau volgehou dat die ondersoek niks te doen het met Suid-Afrika se deelname aan die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika nie.
# Eskom sê hy het die Appèlhof se hofbevel van Maart nagekom en die geskiedkundge primêre energie- en elektrisiteit-voorsieningskontrakte wat in Julie 2022 van krag was, aan AfriForum beskikbaar gestel. Dit sluit kontrakte in wat verband hou met onafhanklike kragverskaffers, steenkoolverkryging, dieselvoorsiening en die uitvoer van elektrisiteit na buurlande. Eskom sê sy kontrak-omgewing ontwikkel steeds deur versterkte bestuur en beheermaatreëls wat operasionele integriteit beskerm en seker maak nasionale verkrygingsraamwerke word nagekom.
# Die Motorbedryf-personeelvereniging verwerp enige sprake van afleggings in die brandstofkleinhandelsektor na die jongste petrolprysverhoging van een-rand-43-sent per liter. Die vakbond voer aan dit is voortydig en onverantwoordelik om afleggings te oorweeg wanneer werkers reeds onder druk verkeer van hoë lewenskoste, skuld en werkloosheid. Die MISA-woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola waarsku afleggings sal verdere druk op werkers en hul gesinne plaas:
# Die Coalition for Epidemic Preparedness Innovations het sowat 818-miljoen-rand aan die farmaseutiese maatskappy, Moderna, en twee ander groepe bewillig. Die doel is om vinnig ʼn entstof te ontwikkel teen die Bundibugyo-stam van die Ebola-virus, wat deur die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda woed. Die uitbreking het 250 sterftes veroorsaak en ongeveer een-duisend mense is vermoedelik besmet. CEPI se uitvoerende hoof, Richard Hatchett, sê met Bundibugyo wat vinnig versprei en geen gelisensieerde entstowwe nie, is elke dag in die stryd teen die dodelike siekte belangrik:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, is deur na haar vierde agtereenvolgende Franse Ope-kwarteindronde. Sy het Naomi Osaka van Japan verslaan en kom nou teen die Rus, Diana Shnaider, te staan wat die eerste Grand Slam-kwarteindronde van haar loopbaan gehaal het nadat sy met die Amerikaner, Madison Keys, afgereken het. In die mansafdeling het die Italianer, Matteo Berrettini, die Argentyn Juan Manuel Cerundolo verslaan om die eerste keer in byna vier jaar ʼn Grand Slam-kwarteindronde te bereik. Felix Auger-Aliassime van Kanada het Alejandro Tabilo van Chili uitgeskakel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-838-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-495-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….