Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SA skop voorkeurhandel in die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied af
# Die minister van Justisie veroordeel pogings om die Groblersdalse Landdroshof met geweld binne te gaan
# En, krieket: Die jong Proteas behaal ‘n oortuigende oorwinning oor Zimbabwe in die Onder 19-Wêreldbeker
# President Cyril Ramaphosa sê die bekendstelling in Suid-Afrika van voorkeurhandel ingevolge die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied, is ‘n geskiedkundige oomblik in die vasteland se ekonomiese toekoms. Hy het in eThekwini in KwaZulu-Natal gepleit vir ‘n wegbeweeg van die uitvoer van grondstowwe na die ontwikkeling van goedere wat in Afrika vervaardig is. Volgens Ramaphosa het die ooreenkoms die potensiaal om nywerheidsontwikkeling te laat vlam vat, inklusiewe groei te bevorder en Afrika-kampioene in finansies, kleinhandel en telekommunikasie te bemagtig:
# Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, onderneem om daadwerklik op te tree na pogings om die Landdroshof op Groblersdal met geweld binne te dring. Hy veroordeel ook ten sterkste die vertoon van die ou Suid-Afrikaanse vlag. Die borgtogverhoor van ‘n boer, Piet Groenewald, en sy stiefseun, Stephan Greef, is tot Woensdag uitgestel. Lamola het buite die hof inwoners herinner die ongevraagde vertoon van die ou vlag is ‘n oortreding van die wet:
# Corruption Watch het sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan vordering in die land se stryd teen korrupsie. Dit volg in reaksie op die jongste verslag van Transparency International se Wêreldkorrupsie-aanwyser, wat aan die lig gebring het Suid-Afrika het ‘n 12-jaar laagtepunt bereik. Die uitvoerende hoof van Corruption Watch, Karam Singh, het op Newzroom Afrika beklemtoon Suid-Afrika het nog lank nie die stryd teen korrupsie gewen nie:
# Die Britse mediagroep Sky het planne aangekondig om vanjaar ongeveer een-duisend poste in die Verenigde Koninkryk te sny, aangesien hy op digitale dienste fokus. Die posbesnoeiings verteenwoordig vier-persent van Sky se arbeidsmag van 26-duisend. Die onderneming sê ingenieurs sal die ergste geraak word, aangesien die vraag na satellietskottel-installasies afneem. Sky se uitvoerende hoof, Alex Mahon, sê werknemers wat geraak word, sal insette lewer tydens ‘n raadplegings-tydperk voor enige finale besluite geneem word. Mahon het die onderneming se doelwit uitgespreek om teen 2030 50-persent digitale inkomste te oorskry.
# Krieket: Kwena Maphaka was Suid-Afrika se held toe hulle Zimbabwe met nege paaltjies geklop het in hulle Onder 19-Wêreldbeker-Super Sesse-wedstryd in Potchefstroom. Die gasheer het die bure ingestuur om te kolf, en hulle binne 30 boulbeurte uitgeboul vir net 102. Maphaka het vyf paaltjies geneem en Tristan Luus drie. Die jong Proteas het die teiken in hulle 14de boulbeurt gehaal met net een paaltjie plat. Lhuandré Pretorius se 53 was die hoogste telling. Suid-Afrika se volgende wedstryd is Vrydag teen Sri Lanka, ook in Potchefstroom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-561-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-37-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….