Nuus 14:00
BULLETIN 1 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Glencore-Merafe staak sy afleggings ná die verligting van kragtariewe
# Benjamin Netanyahu beveel aanvalle op teikens in Hizbollah se vesting
# En rugby: ‘n Beseerde Sacha Feinberg-Mngomezulu sald lank op die kantlyn wees
# Die Glencore-Merafe Chrome Venture het sy beplande afleggings gestaak nadat die energiereguleerder, NERSA, ‘n elektrisiteitstarief-afslag van 62-sent-per-kilowatt-uur goedgekeur het. Dit is daarop gemik om sukkelende ferrochroom-smeltoonde te ondersteun wat worstel met hoë energiekoste. NERSA het ooreenkomste vir Glencore-Merafe en Samancor Chrome goedgekeur, terwyl voorwaardes gereelde vorderings-verslagdoening vereis en dat inkomsteverliese nie aan ander verbruikers oorgedra word nie. Die onderneming sê die besluit sal help om bedrywighede bestendig te maak, werksgeleenthede te beskerm en die gefaseerde herbegin van smeltbedrywighede ondersteun.
# Die geskorste hoof van die KwaZulu-Natalse Valke, Lesetja Senona, sal Vrydag sy getuienis voor die Madlanga-kommissie hervat. Hy sou vandag verskyn, maar sy regspan het bykomende tyd versoek om sy verklaring voor te berei. Senona word betrek by die diefstal van 541-kilogram kokaïen uit ‘n pakkamer van die Valke in Port Shepstone in 2021. Die voorsitter, Mbuyiseli Madlanga, het hom beveel om sy verklaring teen môreaand in te dien:
# Die GOOD-party in die Wes-Kaap het die munisipale bestuurder van Stellenbosch, Geraldine Mettler, amptelik versoek om ‘n deurtastende ondersoek na die bedryf van die GoNOW elektriese bromponiedienste in die middedorp van stapel te stuur. Dit volg na talle klagtes oor roekelose en onveilige gedrag rondom die bedryf van hierdie elektriese bromponies in openbare ruimtes en op paaie. Marius van Stade van GOOD sê openbare veiligheid, aanspreeklikheid en wettige bestuur is uiters belangrik:
Nuus uit die buiteland:
# Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, het aanvalle op die Dahiyeh-voorstad in Beiroet beveel. Dit is ‘n vesting van die Irans-gesteunde militante Hizbollah in die Libanese hoofstad. Netanyahu sê dit is weens Hizbollah se herhaalde skendings van die skietstilstand en aanvalle op Israelse stede en burgers. Israel het aanvalle op Beiroet grootliks vermy sedert die skietstilstand in April, op versoek van die Amerikaanse president, Donald Trump, se administrasie. Die oorlog in Libanon het reeds die lewens van meer as drie-duisend-370 mense geëis.
# Rugby: Die Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu gaan lank op die kantlyn wees nadat hy beseer is in die Stormers se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen Cardiff. Skanderings toon die 24-jarige het sy enkel verstuit. Feinberg-Mngomezulu kan tot drie maande uit wees, wat hom uitsluit van die Springbokke se Nasieskampioenskaps-toetse teen Engeland, Skotland en Wallis volgende maand. Hy sê die besering is ‘n herinnering dat geen speler immuun is teen terugslae nie. Die Stormers het 44-21 gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-538-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-505-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….