Nuus 13:00
BULLETIN 1 June 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Kenner verbind die ontploffings by Woolworths met afpersing, maar terrorisme is nie uitgesluit nie
# Ses verdagtes is in hegtenis geneem nadat ‘n ontvoeringslagoffer in Bloemfontein gered is
# En krieket: Die tienersensasie Vaibhav Sooryavanshi wen vyf IPL-toekennings
# Willem Els van die Instituut vir Sekerheidstudies sê verlede week se twee bomontploffings by Woolworths-winkels in Gauteng en die Vrystaat beklemtoon breër kommer oor georganiseerde misdaad en afpersing in Suid-Afrika. Die eerste ontploffing het Donderdag by Woolworths se tak in Menlynpark in Pretoria plaasgevind. Die tweede was minder as 24-uur later by die Preller Square-tak in Bloemfontein. Die Valke ondersoek die voorvalle. Els sê dis te vroeg om die motief te bepaal en wie agter die aanvalle was, maar terreur kan nog nie uitgesluit word nie.
# Ses verdagtes is in hegtenis geneem en ‘n ontvoeringslagoffer gered tydens ‘n polisie-operasie in die Vrystaatse hoofstad, Bloemfontein. Die polisie het inligting opgevolg en toegeslaan op die plek waar die slagoffer aangehou is. Die persoon is veilig teruggevind. Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn. Owerhede sê die ondersoek duur voort om die motief vir die ontvoering vas te stel en te bepaal of nog verdagtes betrokke was.
# Die DA sê die sukses van Kaapstad se groeiende hommeltuigprogram versterk die saak vir ‘n oordrag van wetstoepassings-bevoegdhede na bekwame plaaslike owerhede. Woordvoerder Lisa Schickerling sê die Stad Kaapstad sal teen dié maand ‘n duisend hommeltuigvlugte voltooi, vergeleke met 238 wat die Wes-Kaapse polisie se lugvleuel in die 2024/25-boekjaar uitgevoer het. Sy sê die hommeltuie word ingespan vir misdaadvoorkoming en ander situasies:
# Krieket: Die 15-jarige plaaslike kolfsensasie, Vaibhav Sooryavanshi, het vyf Indiese Premierliga-toekennings ingepalm ná gister se eindstryd in Ahmedabad. Die speler van Rajasthan Royals het gewen vir waardevolste speler, die Oranje-pet vir die meeste lopies, naamlik 776, die beste opkomende speler, die super-treffer en die meeste sesse, 72. Gujarat Titans se Suid-Afrikaanse snelbouler, Kagiso Rabada, het die Pers-pet verower nadat hy die meeste paaltjies geneem het, naamlik 29 in 17 wedstryde. Royal Challengers Bengaluru het hul titel suksesvol verdedig met ‘n oorwinning met vyf paaltjies oor Gujarat.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-925-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-497-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, moedig jong vroue en meisies aan om waaksaam te bly en die nodige voorsorgmaatreëls te tref wanneer hulle e-taxiplatforms gebruik. Daar is toenemende kommer oor pendelveiligheid en geslagsgeweld. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê vervoeroperateurs, tegnologieplatforms, wetstoepassingsagentskappe en gemeenskappe moet almal ‘n rol speel in die skep van veiliger omgewings vir vroue en meisies, insluitend persone met gestremdhede:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….