Nuus 11:00
BULLETIN 1 June 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa waarsku die Parlement om nie nou met ‘n ampsklagproses teen hom voort te gaan nie
# Israel se uitgebreide inval in Libanon word veroordeel
# En sokker: Al Bafana Bafana se spelers het nou visums vir die Wêreldbekertoernooi
# President Cyril Ramaphosa sê hy sal nie die voorbereidende werk van die ampsklagkomitee verhoed nie, tensy die komitee voortgaan met die proses teen hom terwyl die Wes-Kaapse Hooggeregshof nog die Phala Phala-paneel se verslag hersien. Die komitee sal vandag die eerste keer vergader om ‘n voorsitter te kies en ‘n pad vorentoe te bepaal. Ramapohsa sê in sy hersieningsaansoek dit sou ‘n tragedie wees as die Parlement met ‘n ampsklagproses voortgaan terwyl die wettigheid en geldigheid van die verslag betwis word.
DA-leier Geordin Hill-Lewis sê intussen die komitee moet die waarheid sonder aansien des persoons nastreef. Hy het aan SABC Nuus gesê die proses gaan oor die beskerming van die waardes van aanspreeklikheid, etiek en eerlikheid in die regering eerder as enige individu of administrasie. Hill-Lewis het beklemtoon dat alle bevindinge deur bewyse gelei moet word en dat enigiemand wat aan oortredings skuldig bevind word aanspreeklik gehou moet word, ongeag hul politieke posisie of invloed:
# Die MK-party sê die Konferensie van Linkse Organisasies toon dat progressiewe magte steeds veerkragtig is en ‘n alternatiewe toekoms kan vorm. Die doel was om koördinering, eenheid, politieke opvoeding en georganiseerde strydpogings tussen linkse en werkersklas-instellings te versterk. Tweede adjunkpresident, Tony Yengeni, beklemtoon die belangrikheid van eenheid, maar dit beteken nie dat beginsels prysgegee kan word nie. Hy sê ideologiese verskeidenheid is ook nie ‘n verskoning vir eindelose interne konflik nie:
Nuus uit die buiteland:
# Frankryk, Brittanje en Duitsland veroordeel Israel se uitgebreide inval in Libanon na die verowering van die strategiese Beaufort-kasteel. Dit was die sleutel tot beheer van die omliggende streek sedert die Kruisvaarders dit 900-jaar gelede gebou het. Die Franse president, Emmanuel Macron, sê niks regverdig die groot toename in geweld in Suid-Libanon nie. Die Britse minister van Buitelandse Sake, Yvette Cooper, het Israel versoek om sy militêre optrede te staak en sê die toename vernietig ruimte vir diplomasie. Haar Duitse ampsgenoot, Johann Wadephul, is baie bekommerd oor Israel se opmars.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het bevestig al 26 Bafana Bafana-spelers het nou hul visums ontvang en reis vandag na Noord-Amerika vir die Wêreldbekertoernooi. Hulle was veronderstel om gister te vertrek, maar dis vertraag weens ‘n administratiewe visumfout. Die hulpafrigter, spandokter, hoof van sekerheid en ‘n ontleder wag steeds op visums. Die adjunkminister van Sport, Kuns en Kultuur, Peace Mabe, sê koppe moet rol:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-982-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-508-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….