Nuus 07:00
BULLETIN 1 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Tesourie sê die regering het vordering gemaak met die herstel van die openbare finansies
# Die Konferensie van Linkse Organisasies verbind hulle tot die heropbou van die werkersklas en die armes
# En rugby: Die Bok-vroue wen hul vyfde agtereenvolgende Afrikabeker-titel
# Die Nasionale Tesourie sê die globale graderingsagentskap Standard and Poor’s se jongste vooruitsigte is ‘n bemoedigende teken dat Suid-Afrika die potensiaal het om sy ekonomiese groeikoers te verhoog en openbare skuld vinniger te verminder. S&P het die land se langtermyn buitelandse valuta-soewereine kredietgradering op ‘BB‘ en plaaslike valuta-gradering op ‘BB+‘ bevestig, wat ‘n positiewe vooruitsig handhaaf. Die direkteur-generaal van die Tesourie, Duncan Pieterse, sê die regering het vordering gemaak met die herstel van die gesondheid van Suid-Afrika se openbare finansies en sy vermoë om dit voort te sit ondanks geopolitieke omwentelinge.
# Konferensie van Linkse Organisasies het ‘n geskiedkundige verklaring aangeneem wat deelnemende instellings verbind om die georganiseerde mag van die werkersklas en die armes te herbou. Die konferensie het politieke partye, vakbonde, studente-organisasies, geloofs- en godsdienstige instellings en tradisionele leierskapstrukture byeengebring. Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party se hoofsekretaris, Solly Mapaila, sê die konferensie het verklaar dat Suid-Afrika in ‘n diep strukturele krisis verkeer wat gewortel is in kapitalisme, imperialisme, monopoliemag, patriargie, rassisme, spaarsaamheid, werkloosheid, ongelykheid, maatskaplike geweld en ekologiese vernietiging:
# Die Verkiesingskommissie het bydraes van altesaam 4,5-miljoen-rand tot die Veelparty-Demokrasiefonds gedurende die jongste verslagtydperk verwelkom. Die fonds het drie-miljoen-rand van Vodacom en 1,5-miljoen-rand van Standard Bank ontvang. Die Kommissie sê die skenkings weerspieël voortgesette steun vir Suid-Afrika se veelparty-demokrasie en regverdige politieke befondsing. Hy verwag dat die waarde en omvang van politieke skenkings sal toeneem namate die 2026-plaaslike regeringsverkiesing nader kom. Die Kommissie het belowe om die nakoming van politieke befondsingswette noukeurig te monitor en teen enige nienakoming op te tree.
# Metrobus in Johannesburg gaan van vandag af dienste verminder weens finansiële druk en stygende dieselkoste. In ‘n kennisgewing aan pendelaars sê die busoperateur dat jare se begrotingsbesnoeiings, saam met hoër brandstofpryse, hulle gedwing het om bedrywighede af te skaal. Die veranderinge sluit in verminderde dienste buite spitstyd op geselekteerde roetes en minder ritte gedurende tye met ‘n lae aanvraag. Pendelaars word aangemoedig om bygewerkte roosters en roete-inligting op die Metrobus-webwerf of by busdepots en -terminale na te gaan voordat hulle reis.
# Die direkteur-generaal van die Afrika-sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming, Jean Kaseya, sê beleggings in pandemievoorbereiding moet permanent oor die hele vasteland word. Dit volg terwyl die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda ‘n Ebola-uitbreking beveg, met 263 aangemelde gevalle en 43 bevestigde sterftes tot dusver. Kaseya sê epidemies verswak voorsieningskettings, handel, beleggings en streekbestendigheid. Hy sê hulle is daartoe verbind om teen die einde van die jaar ‘n entstof teen die nuwe Ebola-stam, Bundibugyo, te hê:
# Rugby: Die Springbok-vroue het die gasvroue Kenia met 35-20 geklop om hulle vyfde Afrika-Rugby Vrouebekertitel in Nairobi te verower. Suid-Afrika was teen rustyd 8-7 agter teen die Keniane wat geesdriftig deur die plaaslike skare aangemoedig is. Die Springbok-vroue het egter in die tweede helfte teruggeveg om nog ‘n suksesvolle veldtog op die vasteland af te sluit. Die hulpafrigter, Franzel September sê hy was hoogs in sy skik op die manier waarop die span hulle spel na hulle vertoning teen Uganda opgeskerp het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-384-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-529-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….