Nuus 06:00
BULLETIN 1 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa ontvang die Keniaanse president die week op ‘n staatsbesoek
# Die DA loop voor met skenkings voor die plaaslikeregeringsverkiesing
# En rugby: Australië ontneem die Blitsbokke ‘n tweede agtereenvolgende titeloorwinning
# President Cyril Ramaphosa ontvang die week die Keniaanse president William Ruto op ‘n staatsbesoek aan Suid-Afrika. Amptelike gesprekke by die Uniegebou in Pretoria sal fokus op die versterking van politieke, ekonomiese en diplomatieke bande tussen die twee nasies. Die leiers sal na verwagting streeksprioriteite bespreek en verskeie ooreenkomste onderteken. Ramaphosa en Ruto sal ook die Suid-Afrika-Kenia Sakeforum by die Gallagher-Landgoed in Midrand bywoon, wat daarop gemik is om handel, belegging en sakevennootskappe te bevorder. Die regering sê Kenia bly ‘n belangrike strategiese vennoot in Oos-Afrika en regoor die vasteland.
# Die Verkiesingskommissie het politieke partye se verklarings van skenkings van 1 Januarie tot 31 Maart 2026 gepubliseer. Dit toon byna 97,2-miljoen-rand in befondsing. Die DA het die grootste deel hiervan ontvang met 57,3-miljoen-rand, gevolg deur RISE Mzansi met 30-miljoen-rand en ActionSA met 9,9-miljoen- rand. Die verslag kort voor die 2026 Plaaslike Regeringsverkiesing, toon verskerpte fondsinsamelingsaktiwiteite. Die Kommissie sê hy ondersoek die omskakeling van ‘n lening van 30-miljoen-rand na ‘n skenking aan RISE Mzansi, om nakoming van befondsingswette te verseker.
Intussen het die DA-leier Geordin Hill-Lewis kommer uitgespreek oor die groeiende onverskilligheid onder kiesers in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. In ‘n onderhoud met die SABC het Hill-Lewis Suid-Afrikaners aangespoor om te registreer en aan die demokratiese proses deel te neem. Hill-Lewis sê lae kiesersopkoms verswak aanspreeklikheid en dienslewering, en bygevoeg dat verkiesings ‘n geleentheid vir gemeenskappe is om verandering te dryf. Hy het kiesers versoek om hul stemme by die stembus te laat hoor:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die Nasionale Tesourie om leiding gevra oor ‘n onafhanklike ondersoek na ‘n omstrede huurooreenkoms van 70-miljoen-rand vir ‘n leë gebou in Pretoria. ‘n Voorlopige verslag het bevind die Eiendomsbestuurshandelsentiteit het die huurkontrak in 2023 goedgekeur ten spyte van planne om die Departement van Openbare Ondernemings se huur in die gebou op te skort. Die minister beweer amptenare het probeer om die Nasionale Vervolgingsgesag se anti-korrupsie-eenheid daar te huisves. Hy sê elke amptenaar wat betrokke is moet verantwoording doen:
# Die Israelse eerste minister Benjamin Netanyahu het die inname van Beaufort Castle, naby die stad Nabatiyeh in die suide van Libanon, beskryf as ‘n beslissende verskuiwing van sy veldtog teen die Iran-gesteunde Hisbolla-militante groep. Die Israelse Weermag sê hy het ‘n operasie in die Beaufort Ridge en Wadi al-Saluki-gebied in die suide van Libanon van stapel gestuur om Hisbolla te ontwrig en Israelse beheer oor die gebied uit te brei. Netanyahu sê die doel is om hul greep op die plekke wat onder Hisbolla se beheer was te versterk en uit te brei.
# Rugby: Australië is as kampioene in Valladolid, Spanje, gekroon nadat hulle Suid-Afrika met 26-19 in die mansbeker-eindstryd geklop het. Australië het vier drieë gedruk teenoor die Blitsbokke se drie. Ten spyte van die uitslag, is die Springbok-sewes steeds bo-aan die punteleer na twee van drie Sewes-wêreldkampioenskaptoernooie, nadat hulle verlede maand in Hongkong gewen het. Die eindtoernooi word hierdie naweek in Bordeaux, Frankryk, gespeel. Blitsbok-afrigter Philip Snyman sê hulle was nie klinies genoeg nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-793-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-532-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….