Nuus 13:00
BULLETIN 31 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die PAC sê immigrasie is nie oorsaak van Suid-Afrika se uitdagings nie
# Contralesa eis ekonomiese insluiting vir gemeenskappe
# En die Blitsbokke is deur na die eindstryd van die Wêreld-sewestoernooi in Spanje
# Die leier van die PAC, Mzwanele Nyhontso, sê immigrasie moenie die skuld kry vir Suid-Afrika se voortdurende uitdagings, insluitend die werkloosheidskrisis nie. Die party het tydens sy Afrika-maand-viering ‘n nuwe tak in Centane, Oos-Kaap geopen. Nyhontso sê werkloosheid word hoofsaaklik gedryf deur ekonomiese uitdagings en ‘n gebrek aan geleenthede eerder as die teenwoordigheid van buitelandse burgers. Hy het beklemtoon dat Afrikane nie buitelanders op hul eie vasteland kan wees nie. Hy het gevra vir groter fokus op vaardigheidsontwikkeling en ekonomiese uitbreidingsinisiatiewe.
# Die president van die Kongres van Tradisionele Leiers van Suid-Afrika, Kgosi Mokoena, het ‘n beroep gedoen op betekenisvolle ekonomiese insluiting en groter voordele vir gemeenskappe wat naby bewaringsgebiede woon. Mokoena het in ‘n onderhoud met SABC News tydens die 100ste herdenkingsvieringe van die Krugerwildtuin gesê omliggende gemeenskappe moet deel in die ekonomiese geleenthede wat deur die park geskep word. Hy het ook die ondertekening veroordeel van die Bevoordelingskema-ooreenkoms sonder kommunikasie met tradisionele leiers in die gebied:
# Die appèlliggaam van die National Freedom Party het die uitsetting van die KwaZulu-Natalse LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling en die party se provinsiale voorsitter, Mbali Shinga, gehandhaaf. Die paneel het haar beswaar teen bevindinge van growwe ongehoorsaamheid en wangedrag van die hand gewys, rakende besluit om ‘n partyopdrag tydens ‘n mosie van wantroue teen premier Thami Ntuli te verontagsaam. Die uitspraak beteken dat Shinga onmiddellik haar NFP-lidmaatskap en provinsiale wetgewersetel verloor, met die party wat na verwagting die proses sal begin om haar plaasvervanger aan te stel.
# DA se burgemeesterskandidaat vir Ekurhuleni, Khathutshelo Rasilingwane, vra vir ‘n einde aan wetteloosheid, korrupsie en misdaad in die metro en sê inwoners verdien veilige gemeenskappe en betroubare dienste. Rasilingwane het tydens die DA se bekendstelling van kieserregistrasie gesê Ekurhuleni se wetstoepassingstrukture moet versterk word om openbare vertroue te herstel en veiligheid te verbeter. Sy het beklemtoon dat die uitwissing van korrupsie, verbeterde dienslewering en die heropbou van munisipale bestuur steeds ononderhandelbaar bly:
Rugby: Die Blitsbokke is deur na die eindstryd van die Wêreldsewestoernooi in Valladolid in Spanje nadat hulle Argentinië in ‘n opwindende halfeindstryd met 19-7 geklop het. Hulle sal nou later vanmiddag teen Australië in die eindstryd te staan kom. Suid-Afrika het Vrydag hul veldtog begin deur Brittanje met 17-12 te klop, maar is daarna met 24-14 deur Australië geklop. Hulle het Kenia gister met 14-0 verslaan en Spanje gister in die kwarteindronde net-net met 14-12 geklop. Die eindstryd begin vanmiddag om 4:26.
# Sokker: Bafana Bafana-legende Mark Williams sê die nasionale sokkerspan het die talent en mentaliteit om Suid-Afrika trots te maak by die 2026 FIFA Wêreldbeker-toernooi. Suid-Afrika is na ‘n afwesigheid van 16 jaar weer terug in die toernooi. Williams, wat die held van Bafana se historiese 1996 Afrikabeker-triomf was, het die groep aangespoor om gefokus te bly terwyl hulle die land verteenwoordig. Bafana Bafana moet nog vertrek te midde van visaprobleme voor hul eerste Groep A-wedstryd teen Mexiko op 11 Junie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….