Nuus 13:00
BULLETIN 30 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa ontvang die tussentydse Madlanga-verslag met waardering
# Die ANC-vroueliga vergader te midde van ‘n leierskapskrisis
# En krieket: Die Royal Challengers Bengaluru pak die Gujarat Titans in die IPL-eindstryd
# President Cyril Ramaphosa het sy waardering uitgespreek nadat hy die Madlanga-kommissie se tweede tussentydse verslag ontvang het. Die kommissie, onder voorsitterskap van die afgetrede Konstitusionele Hofregter Mbuyiseli Madlanga, is in Julie 2025 gestig om ondersoek in te stel na korrupsie en inmenging binne die strafregstelsel. Die Presidensie se woordvoerder Vincent Magwenya sê die president sal die verslag bestudeer en verwag dat alle vermeende misdadige gedrag wat die kommissie geïdentifiseer het, verwys sal word vir vervolging:
# Die ANC-vroueliga se Spesiale Nasionale Uitvoerende Komitee hou vandag ‘n dringende vergadering in Ekurhuleni, Gauteng, oor die leierskapstoekoms. Die vergadering volg nadat die voormalige president, Sisisi Tolashe, bedank het as ANC-Parlementslid en die liga se president weens toenemende bewerings, insluitend oor voertuie wat geskenk is vir amptelike ANC-vroueliga-bedrywighede wat toe gebruik is ten bate van gesinslede en medewerkers. Afgevaardigdes sal na verwagting die leierskapleemte bespreek en ‘n pad vorentoe vir die organisasie uitstippel.
# KwaZulu-Natalse polisie het ‘n nasionale ampsdraer van die All Truck Drivers Forum South Africa in hegtenis geneem vir beweerde aanhitsing van geweld langs die N3 Suid naby Bergville. Polisiewoordvoerder Robert Netshiunda sê beamptes het op ‘n groep afgekom wat vragmotors voorgekeer het. Die verdagtes het na nabygeleë bosse gevlug en ‘n voertuig met ‘n ATDF-SA-banier en klippe agtergelaat. Hy bevestig drie verdagtes, insluitend twee vragmotorbestuurders, is in hegtenis geneem en die polisie glo die voertuig se eienaar kan ook verbind word met ‘n bus wat naby die Colenso-wisselaar met klippe bestook is:
# Suid-Afrika het 376 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag bereik en verwag geen kragonderbrekings in die winter nie. Eskom het bevestig die aanleg se prestasie en betroubaarheid verbeter steeds namate die kragstelsel bestendig bly te midde van toenemende winter-aanvraag. Die kragvoorsiener het ‘n Energiebeskikbaarheidsfaktor van 62,59-persent aangemeld, teenoor 57,43-persent ‘n jaar gelede, met onbeplande onderbrekings wat aansienlik afgeneem het. Eskom het ook deurlopende kragvoorsiening aan meer as 651-duisend huishoudings herstel wat voorheen deur kragvermindering geraak is.
# Die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde het bevindings aanvaar van ‘n forensiese ondersoek wat ernstige bestuurs-, verkrygings- en arbeidsonreëlmatighede bevestig wat verklikkers in 2024 uitgewys het. Die ondersoek het bewyse van onreëlmatige uitgawes, onverklaarde belangebotsings, gebrekkige werwingsprosesse en verkrygingsoortredings aan die lig gebring. SABS-raadsvoorsitter, Mzubanzi Bismark Tyobeka, sê ingrypings, insluitend dissiplinêre stappe, is aan die gang. Die waarnemende uitvoerende hoof, Blake Mosley-Lefatola, sê die organisasie is verbind tot die herstel van aanspreeklikheid en bestendigheid na jare van operasionele probleme en interne konflik.
# En krieket: Die Royal Challengers Bengaluru kom môre teen die Gujarat Titans in die 2026-IPL-eindstryd in die Narendra Modi-stadion te staan. RCB het hul plek verseker deur die Titans met 92 lopies in hulle eerste kwalifiserende ronde te klop, aangevuur deur Rajat Patidar se uitstekende 93. Gujarat het in die tweede kwalifiserende ronde teruggeveg om ‘n teiken van 215 lopies teen die Rajasthan Royals te haal danksy ‘n honderdtal van kaptein Shubman Gill. Rajasthan het Hyderabad in ‘n vorige ontmoeting uitgeskakel. Die verdedigende kampioene, RCB, mik nou na agtereenvolgende titels, terwyl Gujarat veg om die kroon terug te eis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….