Nuus 14:00
BULLETIN 29 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die rand is op sy beste vlak in maande ná ‘n rentekoersverhoging en berigte van ‘n wapenstilstandooreenkoms
# Paul Mashatile wil bilaterale betrekkinge met Indië versterk tydens ‘n werksbesoek
# En sokker: Lionel Messi gaan in sy sesde Wêreldbeker vir Argentinië speel
# Die rand het vanoggend op sy sterkste vlak sedert vroeg in Maart verhandel. Dit volg nadat die dollar verswak het te midde van berigte dat die VSA en Iran ‘n ooreenkoms bereik het om die wapenstilstand in die Midde-Ooste met nog 60 dae te verleng, en beperkings op verskeping deur die Straat van Hormoes op te hef. Suid-Afrika se monetêre beleidskomitee het gister die terugkoopkoers met 25 basispunte tot 7-persent verhoog, die eerste verhoging sedert 2023. Hoër rentekoerse maak Suid-Afrikaanse bates aantrekliker vir beleggers wat opbrengste soek.
# Adjunkpresident Paul Mashatile is op ‘n werksbesoek aan Indië. Die laaste amptelike besoek deur ‘n Suid-Afrikaanse staatshoof was in Januarie 2019 toe president Cyril Ramaphosa hoofgas was by Indië se Republiekdagvieringe. Die Presidensie sê Mashatile sal as deel van sy besoek die bilaterale betrekkinge met die sakeleiers en beleggers uit Indië versterk. Dit sal tydens ‘n rondetafelbespreking plaasvind, wat daarop gemik is om meer beleggings vir beide lande te lok. Mashatile is nog tot Woensdag in Indië.
# Die vakbond Giwusa sê die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee se besluit om die terugkoopkoers met 25 basispunte te verhoog, is ‘n voortsetting van klas-uitbuiting deur woeker-afpersing. Die komitee se besluit kom te midde van stygende verbruikerspryse wat deur konflik in die Midde-Ooste veroorsaak word. GIWUSA-president, Mametlwe Sebei, sê werkersklas-verteenwoordiging op die beleidskomitee en alle prysreguleerders is nodig. Hy sê die finansiële bedryf moet genasionaliseer word onder werkers se demokratiese beheer:
# ‘n Multidissiplinêre misdaadvoorkomingsoperasie in Atteridgeville en Laudium in Tshwane gister, het gelei tot die inhegtenisneming van 340 verdagtes. Hulle is vasgetrek vir verskeie oortredings, insluitend moord, poging tot moord en gewapende roof. Polisiewoordvoerder, Johan van Dyk, sê 49 ongedokumenteerde buitelandse burgers was ook aangehou en oorhandig aan immigrasie-owerhede vir verdere verwerking en deportasie:
# Sokker: Lionel Messi sal in sy sesde Wêreldbeker-toernooi speel nadat hy in Argentinië se 26-man-groep bevestig is ten spyte van beserings. Die 38-jarige, wat sy land vier jaar gelede na ‘n derde Wêreldbeker-triomf in Katar gelei het, ly aan spiermoegheid in sy linker-dyspier. Ander noemenswaardige spelers wat in die groep ingesluit is, is Aston Villa se doelwagter Emiliano Martinez, Atletico Madrid se Julian Alvarez, Liverpool se Alexis Mac Allister en Chelsea se Enzo Fernandez. Argentinië is in Groep J saam met Algerië, Oostenryk en Jordanië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-569-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-538-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….