Nuus 09:00
BULLETIN 29 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu sê die rentekoersverhoging is ekonomies roekeloos
# Standard Bank sê die verhoging plaas meer druk op boere en voedselpryse
# En tennis: Gauff en Sabalenka is veilig deur na die derde rondte van die Franse Ope
# Die vakverbond Saftu sê die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee se besluit om rentekoerse met 25 basispunte tot sewe-persent te verhoog, is ekonomies roekeloos en maatskaplik vernietigend. Die basiese uitleenkoers is nou 10,5-persent. Saftu-woordvoerder Asive Dyani sê die besluit om koerse te verhoog is heeltemal verwyderd van die werklikheid van miljoene werkers en arm mense wat reeds gebuk gaan onder die las van werkloosheid, skuld, honger en stygende lewenskoste:
# Daarby sê Standard Bank die Suid-Afrikaanse landbousektor staar nuwe finansiële druk in die gesig met die besluit van die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee om die rentekoers met 25 basispunte tot sewe-persent te verhoog. Dis te midde van inflasie, hoër brandstofpryse en kommer oor ‘n moontlike El Niño. Standard Bank se hoof van Landbousake vir Sakeondernemings en Kommersiële Banksake, Brendan Jacobs, sê die landbousektor is veral baie kwesbaar omdat brandstof en energiekoste nou verbonde is aan landbou, logistiek en voedselverspreidingsnetwerke:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het ‘n verskoning uitgereik aan studentverpleërs wat weens administratiewe vertragings nie hul toelaes ontvang het nie. Menslike Hulpbronnebestuur is besig om die nodige dokumente voor te berei. Die woordvoerder van die departement, Steve Mabona, sê die betrokke lêers word by e-Regering ingedien om die uitbetaling van die sowat 500 betrokke studente van vier veplegingkolleges se toelaes moontlik te maak:
# Die Europese Unie het sanksies ingestel teen vier instellings en drie individue wat hy beskryf as “ekstremistiese Israelse setlaars” wat volgens hom verantwoordelik is vir ernstige en stelselmatige menseregteskendings teen Palestyne in die Wesoewer. Dit sluit bevriesing van bates en ‘n moontlike reisverbod in. Onder die betrokke instellings en persone is die Nachala-nedersettingbeweging en sy direkteur, Daniella Weiss. Die EU beskuldig hulle van aanmoediging en fasilitering van dwang-aktiwiteite wat bydra tot die ontheemding van Palestyne.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Coco Gauff van Amerika, en wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, is deur na die Franse Ope se derde rondte. Gauff het die Egiptenaar, Mayar Sherif, gemaklik verslaan terwyl Sabalenka van Belarus met Elsa Jacquemot van Frankryk afgereken het. Die sesde gekeurde Amerikaner, Amanda Anisimova, is ook deur na die derde rondte nadat die Oostenryker, Julia Grabher, onttrek het toe sy die eerste stel met 6-0 verloor. In die mansafdeling het die 17-jarige Moise Kouame van Frankryk, Adolfo Daniel Vallejo van Paraguay verslaan om die vyfde jongste man te word ʼn Grand Slam se derde rondte wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-299-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-509-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….