Nuus 08:00
BULLETIN 29 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se Ampsklagkomitee sal Maandag sy eerste vergadering hou
# Die organiseerders van die Kongres van Linkse Bewegings sê hulle gaan nie ‘n nuwe politieke party stig nie
# En JD Vance sê die VSA en Iran maak goeie vordering om ’n ooreenkoms te bereik
# Die Nasionale Vergadering se Ampsklagkomitee wat gestig is om president Cyril Ramaphosa se vermeende wangedrag te ondersoek, sal Maandag sy eerste vergadering hou. Die komitee se voorsitter sal tydens die vergadering gekies word. Die Konstitusionele Hof het vroeër die maand bevind dat die Parlement se stemming in 2022 om nie voort te gaan met ‘n ampsklagondersoek ná aanbevelings van die Artikel 89-paneel se verslag nie, onwettig was. Intussen wag die Parlement steeds op die president se hofdokumente en regsadvies of hulle Ramaphosa se regshersiening moet teenstaan.
# Die organiseerders van die Kongres van Linkse Bewegings het bewerings ontken dat hulle ‘n nuwe politieke party stig. Dis eerder die skep van ‘n raamwerk om hul werk te koördineer en te versterk deur ‘n gemeenskaplike platform en program. Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party-geborgde byeenkoms vind vandag en môre in Boksburg, oos van Johannesburg, plaas. Veertien politieke partye, insluitend die EFF sal die geleentheid bywoon. Die Algemene Sekretaris van die SAKP, Solly Mapaila, sê die ANC verbeur ‘n geleentheid deur nie aan die byeenkoms deel te neem nie:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, verwelkom die Gautengse Hooggeregshof se uitspraak teen die eienaars van Marble Towers. Die hof het bevind die strukture in Marble Towers, waar smouse handel dryf, is onwettig en sonder bouplanne opgerig. Die eienaars, Goldenrod Group, het nie bouplanne by die metro gekry nie en kon nie bewys waarom ʼn dringende interdik teen die munisipaliteit toegestaan moet word nie. Morero sê die uitspraak ondersteun die metro se pogings om verordeninge toe te pas:
# Die Amerikaanse vise-president, JD Vance, sê Washington en Iran het goeie vordering gemaak om ʼn ooreenkoms te bereik, maar daar is nog talle kwessies wat uitgeklaar moet word. Volgens berigte sou die ooreenkoms insluit dat die skietstilstand met 60 dae verleng word, die Straat van Hormoes sou heropen en beraadslaging oor Teheran se kernprogram sou begin. Intussen beskuldig Amerika en Iran mekaar dat hulle die afgelope dae die brose skietstilstand verbreek het. Vance sê hy kan nog nie waarborg dat ʼn ooreenkoms bereik sal word nie:
# Rugby: Die Junior Springbok-afrigter, Kevin Foote, het ʼn herskommelde span aangewys vir hul laaste kragmeting in die Internasiobale Onder-20-reeks teen Georgië wat môre in Stellenbosch plaasvind. Kaptein Riley Norton is terug nadat hy die eerste wedstryd teen Chili misgeloop het weens sy betrokkenheid by die Springbok-belyningskamp. Vusi Moyo begin sy derde agtereenvolgende wedstryd op losskakel terwyl Luan Giliomee op heelagter uitdraf. Onder die losvoorspelers kry Oliver Reid, wat voorheen op die bank was, ʼn kans as een van die twee begin-stutte in die herskommelde voorry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-299-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-495-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….