Nuus 12:00
BULLETIN 28 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Grensbestuursowerheid onderskep ‘n dwelmbesending van byna ‘n miljard-rand op die Beitbrug-grenspos
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku oor uiterste weerstoestande nadat Ceres rekordreënval aanteken
# En sokker: Ramaphosa is tevrede met Bafana Bafana se Wêreldbekergroep
# Die Grensbestuursowerheid het ‘n dwelmbesending ter waarde van 998,2-miljoen-rand onderskep op die Beitbrug-grenspos in Musina, Limpopo. Drie Malawiese burgers is aangekeer. ʼn Intelligensie-gedrewe operasie wat uit die Nasionale Teiken-sentrum bedryf word, het ʼn vragmotor geïdentifiseer wat deur Zimbabwe na Beitbrug reis. Volgens die Grensbestuursowerheid is die voertuig onderskep en met die gesofistikeerde vragmotor-skandeerder op die perseel ondersoek. Woordvoerder Mmemme Mogotsi sê ʼn versteekte ruimte is ontdek:
# Die Departement van Korrektiewe Dienste kan nie rekenskap gee van 27-duisend-797 voortvlugtige hoërisiko-paroolgangers nie. Hul misdade sluit in moord, verkragting, ontvoering en gewapende roof. ʼn AmaBhungane-ondersoek het onthul dat 15-duisend-860 voortvlugtig is sedert hulle tussen 1991 en 2004 op parool vrygelaat is, maar die staat kan hulle nie opspoor en weer aankeer nie. Gauteng se nege-duisend-355 is die meeste voortvlugtiges. Die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, sê hulle handhaaf ʼn gevolge-gedrewe opspoor- en nasporing-vermoë en gaan voort om voortvlugtige paroolgangers suksesvol na die korrektiewe stelsel terug te bring.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê Ceres in die Wes-Kaap het tydens ‘n hewige storm tussen 10 en 12 Mei sy hoogste reënval in ‘n tydperk van 24-uur aangeteken sedert rekords in 1955 begin het. Die gebied het dié maand reeds meer as 500-millimeter reën gekry, ver bo die langtermyn-gemiddeld van 80-millimeter. Hannelee Doubell van die Weerdiens sê die gebeurtenis is uiters skaars en kan ‘n eenmalige reënval in 200-jaar wees:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Departement van Justisie het volgens berigte ‘n strafregtelike ondersoek na die voormalige tydskrifrubriekskrywer E Jean Carroll van stapel gestuur. Die 82-jarige het president Donald Trump van seksuele aanranding beskuldig en ‘n federale siviele regsgeding teen hom gewen vir seksuele misbruik en laster. ‘n Hof het hom skuldig bevind en meer as 80-miljoen-rand se skadevergoeding aan Carroll toegeken. Die ondersoek fokus nou glo op die vraag of Carroll meineed gepleeg het in haar getuienis in die twee sake teen Trump, waarteen hy nou appelleer.
# Sokker: President Cyril Ramaphosa sê Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het die beste span gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig op die Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika. Broos het die nuweling-verdedigers Olwethu Makhanya en Bradley Cross ingesluit by sy groep van 26 wat deur die doelwagter Ronwen Williams aangevoer word. Suid-Afrika speel op 11 Junie in die openingswedstryd teen die mede-gasheer, Mexiko. Ramaphosa vra die spelers om sportmangees, kameraadskap, professionalisme en spanwerk te toon:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-298-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-393-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….