Nuus 11:00
BULLETIN 28 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se korrektiewe stelsel kan nie rekenskap gee van byna 28-duisend paroolgangers nie
# Twee mense sterf in nog ‘n Amerikaanse Weermagaanval op ‘n vermeende dwelmsmokkelboot in die Stille Oseaan
# En sokker: Ramaphosa is tevrede met Bafana Bafana se Wêreldbekergroep
# Die Departement van Korrektiewe Dienste kan nie rekenskap gee van 27-duisend-797 voortvlugtige hoërisiko-paroolgangers nie. Hul misdade sluit in moord, verkragting, ontvoering en gewapende roof. ‘n AmaBhungane-ondersoek het onthul dat 15-duisend-860 voortvlugtig is sedert hulle tussen 1991 en 2004 op parool vrygelaat is, maar die staat kan hulle nie opspoor en weer aankeer nie. Gauteng se nege-duisend-355 is die meeste voortvlugtiges. Woordvoerder Singabakho Nxumalo sê hulle handhaaf ʼn gevolge-gedrewe opspoor- en nasporing-vermoë en gaan voort om voortvlugtige paroolgangers suksesvol na die korrektiewe stelsel terug te bring.
# Die EFF eis dat die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, president Cyril Ramaphosa se aansoek teenstaan om die Artikel 89-paneel se verslag te laat hersien. Hy het Dinsdag hofstukke by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien om die verslag te laat hersien. Die paneel het bevind daar is prima facie-bewyse dat Ramaphosa moontlik die Grondwet oortree het in die Phala Phala-sage. Die EFF voer aan indien die aansoek nie teengestaan word nie, word die gesag, integriteit en grondwetlike rol van die Nasionale Vergadering ondermyn.
# ActionSA sê die Stad Johannesburg se begroting van 97,1-miljard-rand vir die volgende boekjaar hanteer nie die lewensomstandighede van die middelklas en minderbevoorregtes nie. Die begroting se hoof-inkomstebronne is elektrisiteit, water en afvalwater, eiendomsbelasting en vullisverwydering. ActionSA se woordvoerder, Mpumi Edward, sê die begroting gee steeds voorkeur aan dienslewering en infrastruktuurbelegging wat herhaaldelik in vorige begrotings gemaak is:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Weermag het weer toegeslaan op ‘n beweerde dwelmsmokkelboot in die oostelike Stille Oseaan. Twee mense is dood. Amerika se suidelike bevelsentrum sê inligting het bevestig die vaartuig was in bekende smokkelvaarwater en besig met dwelmverwante bedrywighede. Die Weermag het Dinsdag nog ‘n verdagte vaartuig aangeval en een man is dood en twee het oorleef. Minstens 194 mense is sedert verlede September in soortgelyke aanvalle dood. Regskenners en regtegroepe voer aan die aanvalle kan op buitegeregtelike moorde neerkom.
# Sokker: President Ramaphosa sê Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het die beste span gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig op die Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika. Broos het die nuweling-verdedigers Olwethu Makhanya en Bradley Cross ingesluit by sy groep van 26 wat deur die doelwagter Ronwen Williams aangevoer word. Suid-Afrika speel op 11 Junie in die openingswedstryd teen die mede-gasheer, Mexiko. Ramaphosa vra die spelers om sportmangees, kameraadskap, professionalisme en spanwerk te toon:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-67-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-388-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….