Nuus 09:00
BULLETIN 28 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF eis dat die speaker van die Nasionale Vergadering Ramaphosa se Phala Phala-hofhersiening teenstaan
# Die DA sê studenteskuld het ‘n sistemiese befondsings- en bestuurskrisis geword
# En ‘n Britse spioenasiehoof sê byna 500-duisend Russiese troepe is in die Oekraïense oorlog dood
# Die EFF eis dat die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, president Cyril Ramaphosa se aansoek teenstaan om die Artikel 89-paneel se verslag te laat hersien. Hy het Dinsdag hofstukke by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien om die verslag te laat hersien. Die paneel het bevind daar is prima facie-bewyse dat Ramaphosa moontlik die Grondwet oortree het in die Phala Phala-sage. Die EFF voer aan indien die aansoek nie teengestaan word nie, word die gesag, integriteit en grondwetlike rol van die Nasionale Vergadering ondermyn.
# Die DA sê Suid-Afrika se naskoolse befondsingstelsel is onder geweldige en toenemende druk met universiteite en TVET-kolleges wat studenteskuld van 62-miljard-rand moet hanteer. Skuld aan universiteite beloop sowat 59-miljard-rand, insluitend ongeveer 29-miljard-rand van studente wat deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente befonds word. Delmaine Christians van die DA sê die oplossing vir studenteskuld is dringende ekonomiese groei sodat gegradueerdes kan werk kry en hulle studenteskuld terugbetaal:
# Die ANC Groter Johannesburg Streek sê die Stad Johannesburg se R97-miljard begroting vir die 2026/2027 boekjaar wys ‘n dappper en beslissende intrede wat gerig is op herstel van die metro. Die begroting is gerig op die versterking van bestuur, die verbeter van belastinginsameling, vermindering van elektrisiteit- en waterverliese en die bevordering van operasionele doeltreffendheid. Hy voeg by die die leiers van die metro moet geloof word vir die hervorminggerigte en ontwikkelingsbegroting ten gunste van armes wat ter tafel gelê is. Dis ‘n begroting wat hervorming nastreef en fiskale volhoubaardheid in balans met die dringende behoeftes van inwoners bring.
# Die direkteur van die Britse spioenasie-agentskap GCHQ, Anne Keast-Butler, sê Brittanje word tans blootgestel aan al hoe meer onbeskaamde optrede van vyandige lande, insluitende Rusland. Sy het haar kantoor se jaarlikse bedreigingsopname bekendgemaak en gesê hulle help om roekelose sabotasie en sluipmoordpogings van die Kremlin af te weer. Keast-Butler sê volgens nuwe inligting verloor Putin tans op die slagveld met meer as ‘n half-miljoen Russiese soldate wat dood is sedert die konflik begin het:
# Krieket: Die tienersensasie Vaibhav Sooryavanshi het die Rajasthan Royals tot ‘n oorwinning van 47 lopies oor die Sunrisers Hyderabad gelei in hul bepalende Indiese Premierliga-wedstryd. Die 15-jarige Sooryavanshi het 97 van net 29 balle behaal en die Royals ʼn telling van 243 vir agt in hul 20 boulbeurte besorg. Daarna het Jofra Archer drie paaltjies platgetrek en Sunrisers was na 19 boulbeurte en twee balle op 196 almal uit. Die Rajasthan Royals kom môre in die tweede uitspeelwedstryd teen die Gujarat Titans te staan. Die wenner speel Sondag in die eindstryd teen die verdedigende kampioene, Royal Challengers Bengaluru.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-855-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-368-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….