Nuus 07:00
BULLETIN 28 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Simelane sê die teiken vir die lewering van behuising is steeds nie gehaal nie
# Die SAKP kritiseer die ANC omdat hulle weier om deel te neem aan die Konferensie van die Linkses
# En sokker: Die Bafana Bafana-afrigter kies 26 spelers om Suid-Afrika by die Wêreldbeker te verteenwoordig
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, het erken dat die lewering van behuising nie die teikens haal nie. Slegs 23-duisend-27 behuisingseenhede is gelewer teenoor die teiken van 37-duisend-779 die vorige boekjaar. Sy het ‘n begroting van 26,972-miljard-rand vir die 2026/2027-boekjaar ter tafel gelê. Simelane sê die departement sal optree teen kontrakteurs wat agter raak en amptenare wat verantwoordelik is vir agterstande met verkryging. Sy sê die regering bly verbind tot vernuwende boutegnieke om lewering van behuising te versnel en klimaatsweerstandigheid te verbeter.
# Die SAKP kritiseer die ANC omdat die regerende party weier om deel te neem aan die komende Konferensie van Linkses. Die konferensie met die tema “Building a Left Movement for Working-Class and Popular Power”, sal deur verskeie linkse politieke partye en vakbonde bygewoon word. Die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula sê dis ʼn politieke projek om die party te ondermyn. Die SAKP sê hy verwerp die houding as arrogant en tipies van huidige ANC-hooggeplaastes wat ʼn neiging het om hulself te verheerlik.
# Die munisipale vakbond Samwu sê bestuur en arbeidsverhoudinge in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit in die Oos-Kaap versleg, wat werkers in onveilige toestande sonder behoorlike toerusting of ondersteuning laat. Volgens die vakbond word dienslewering ontwrig deur voortdurende leierskaponbestendigheid, gevandaliseerde fasiliteite en vertragings in tugsake, en skend die regte van werkers. Die streeksekretaris van Samwu, Siphokazi Lobishe, het die munisipaliteit gekritiseer omdat hulle nie sleutelstrukture en pos-evaluerings finaliseer nie.
# President Donald Trump sê daar is steeds hoop vir ʼn ooreenkoms met Iran, maar waarsku dat Teheran se pogings om hom te oorleef nie gaan werk nie. Die memorandum van verstandhouding wat onderhandel word, sluit blykbaar in dat Amerikaanse magte uit die omgewing van Teheran onttrek en die blokkade van Iranse hawens opgehef word. In ruil daarvoor sal die Straat van Hormoes heropen word op vlakke soos voor die oorlog. Trump het gister tydens ʼn kabinetsvergadering gesê hulle is nie tevrede met die huidige ooreenkoms nie:
# Sokker: Bafana Bafana-afrigter Hugo Broos het 26 spelers bekendgemaak wat Suid-Afrika by die komende Wêreldbeker in Amerika, Kanada en Mexiko sal verteenwoordig. Die span het drie doelwagters, insluitend kaptein Ronwen Williams, elf verdedigers wat die 22-jarige nuweling Olwethu Makhanya insluit, vier middelveldspelers en agt doelskoppers. Ander spelers wat die groep gehaal het, is Lyle Foster, Bradley Cross, Relebohile Mofokeng en Jayden Adams. Broos sê hy moes moeilike besluite neem:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-70-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-417-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-61-sent per vat.
# En ten slotte: Eskom sê drie jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes sal die land volgende maand by die Internasionale Wiskunde-, Wetenskap- en Ingenieurstentoonstelling in Turkye verteenwoordig. Hulle sal projekte oor vuurpylwetenskap, die uitwerking van klimaat op visse en gevorderde wiskundige modellering aanbied. Die afvaardiging sluit leerders van die Wes-Kaap, Oos-Kaap en die Vrystaat in. Hul navorsing wissel van die verbetering van kleinskaalse vuurpylmotorontwerp tot die studie van die gevolge van stygende watertemperature op visse en die ontleding van priemgetalpatrone wat verband hou met Goldbach se Vermoede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….