Nuus 17:00
BULLETIN 27 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AgriSA bepleit dringende biosekerheidshervorming te midde van die bek-en-klouseerkrisis
# FOSA eis streng afdwinging van die immigrasiewette
# En, die nuwe hoof van Hamas se militêre vleuel sterf in ‘n Israelse aanval in Gaza-stad
# AgriSA bepleit die vinniger toediening van entstowwe en langtermyn-hervormings in biosekerheid met die regering wat steeds teen die uitbreking van bek-en-klouseer veg. Die organisasie sê meer as 11-miljoen dosisse entstof word teen die einde van die maand in die land verwag, maar stadige verspreiding in sekere provinsies is kommerwekkend. AgriSA se uitvoerende hoof, Johann Kotzé, sê die uitbreking het reeds uitvoerverliese van meer as 5,6-miljard-rand veroorsaak. Hy waarsku die verliese kan toeneem as die siekte nie onder beheer gebring word nie.
# Forum for South Africa eis strenger toepassing van immigrasiewette en versterkte grensbeveiliging te midde van betogings teen immigrante. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die regering moet aanspreeklik gehou word vir swak en ondoeltreffende wetstoepassing, gebrekkige grensbeheerstelsels en ‘n gebrek aan dringendheid om georganiseerde misdaad te bestry. Hy sê dit laat onwettige bedrywighede sonder beheer uitbrei terwyl georganiseerde sindikate voordeel trek uit tekortkominge in wetstoepassing en bestuur:
# Die ANC in Kaapstad verwerp die voorgestelde verkope van die metro se aandele in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum. Die metro se huidige aandeelhouding is 72,7-persent, die Wes-Kaapse regering besit 22,2-persent en Sunwest International 5,1-persent. ANC-woordvoerder Judy-Ann Stevens sê hulle is bekommerd oor die gebrek aan deursigtigheid oor hoe die inkomste uit die verkope gebruik gaan word:
# Die bevelvoerder van Hamas se militêre vleuel, Mohammed Odeh, is in ‘n Israelse aanval in die Gazastrook dood, slegs dae nadat sy voorganger in ‘n soortgelyke aanval gesterf het. Ten minste drie Palestyne is dood en tientalle is beseer in die aanval op ‘n gebou in een van Gaza-stad se besigste markgebiede. ‘n Plaaslike Hamas-bron en familielede sê Odeh, sy vrou en hul volwasse seun is dood. Geweld duur byna daagliks voort in Gaza ondanks ‘n skietstilstand tussen Israel en Hamas
# Waterpolo: Skole Waterpolo Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse Waterpolo beplan om formeel saam te werk, wat die skole se deelnamebasis van die sport in lyn bring met nasionale kompetisie- en bestuurstrukture. Die voorgestelde ooreenkoms is daarop gemik om ‘n samehangende en gestruktureerde pad vir waterpolo in die land te skep, wat kontinuïteit van skole tot senior en internasionale verteenwoordiging sal verseker. Die organisasies glo dat die langtermyn sukses van waterpolo afhang van ‘n gekoördineerde benadering tot ontwikkeling, ondersteun deur belynde strukture en die doeltreffend gebruik van beperkte hulpbronne:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-568-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-435-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….