Nuus 12:00
BULLETIN 27 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die eerste groep Ghanese burgers word gerepatrieer
# AfriForum bied hommeltuigondersteuning ná die moorde in die Kruger-wildtuin
# En Britse dokters beweer sosiale media is so erg soos rook vir kinders
# Ghanese owerhede repatrieer vandag die eerste groep van sy burgers wat versoek het om Suid-Afrika te verlaat. Meer as 800 Ghanese het vir vrywillige ontruiming geregistreer en 300 vertrek vandag vanaf OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng. Dit volg op ‘n vlaag betogings teen onwettige immigrasie. Die hoof van Binnelandse Sake, Immigrasie en Wetstoepassing, Stephen van Neel, het aan die SABC gesê hulle het probleme ondervind tydens die bevestigings-proses:
# Die vakbond GIWUSA vra noemenswaardige rentekoersverlagings en uitgebreide prysbeheer voor môre se Monetêre Beleidskomitee-vergadering. Woordvoerder Mametlwe Sebei sê inflasie word aangevuur deur wêreldwye konflik sowel as brandstof- en elektrisiteitsprysverhogings, nie verbruikersbesteding nie. Hy voer aan hoër rentekoerse vererger huishoudelike skuld. Sebei sê die Reserwebank moet werkskepping voorrang gee en werkersklas-huishoudings ondersteun:
# AfriForum sê owerhede moet dringend ‘n duidelike veiligheidsplan vir die Krugerwildtuin instel na die moord op ‘n egpaar van Mosselbaai. Die organisasie vra sterker patrollies, vinniger noodreaksiestelsels en verbeterde kommunikasiekanale vir besoekers. Hy het ook aangebied om te help met hommeltuigmonitering om sekerheids-maatreëls te verbeter. Woordvoerder Lambert de Klerk sê dringende optrede is nodig om openbare vertroue te herstel en besoekers beter te beskerm:
# Rugby: Die Stormers se Projek 2029 het stukrag gekry met die terugkeer van die Springbok-puntemasjien Cheslin Kolbe. Die projek mik daarna om die span te posisioneer om die Kampioenebeker die eerste keer te wen. Die direkteur van rugby, John Dobson, sê hulle waardeer Kolbe se finansiële opoffering om na Kaapstad terug te keer, want hy kon baie meer verdien het as hy in Japan gebly het. Dobson ontken dat dit ‘n aftreepos is. Kolbe sal in Julie by die Stormers aansluit.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-848-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-489-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte: Britse dokters beskou sosiale media as net so gevaarlik as rook vir kinders. Hulle het wetgewers aangespoor aan die skade aan te pak wat oormatige skermtyd aan jongmense veroorsaak. Die Academy of Medical Royal Colleges sê rook, net soos die dra van veiligheidsgordels in motors, kan as ‘n verenigende mag vir die mediese beroep beskou word. Brittanje bespreek tans die beperking van kinders se toegang tot sosiale media, insluitend ‘n moontlike verbod vir onder-16s, aandklokreëls, tydsbeperkings vir toepassings en beperkings op wat as verslawende ontwerp-kenmerke beskryf word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….