Nuus 11:00
BULLETIN 27 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA sê Cyril Ramaphosa moet sy eie regskoste in die Phala Phala-saak betaal
# Die Trump-administrasie gaan nog 10-duisend Suid-Afrikaners in Amerika toelaat
# En rugby: Die Stormers se Projek 2029 vorder fluks met Kolbe se terugkeer
# Build One South Africa sê Suid-Afrikaanse belastingbetalers moenie gedwing word om president Cyril Ramaphosa se persoonlike regsaak teen die Artikel 89-paneelverslag oor die Phala Phala-sage te betaal nie. Ramaphosa het ‘n aansoek by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien om die verslag te hersien en tersyde te stel, en enige optrede van die Nasionale Vergadering wat daaruit spruit, ongeldig te verklaar. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê die Parlement se ampsklagproses moet sonder hindernis voortgaan:
# President Donald Trump van Amerika het ʼn presidensiële besluit onderteken om vanjaar nog tien-duisend Suid-Afrikaners as vlugtelinge in Amerika toe te laat. Dit verhoog die syfer vir hierdie fiskale jaar van sewe-duisend-500 tot 17-duisend-500. Trump verklaar dat ʼn onvoorsiene nood-vlugtelingsituasie nou in Suid-Afrika bestaan weens ʼn onlangse toename in aanhitsing van ras-gemotiveerde geweld deur die regering en leiers van politieke partye. Hy sê die verhoging van die vlugteling-getalle is geregverdig.
# AfriForum sê owerhede moet dringend ‘n duidelike veiligheidsplan vir die Krugerwildtuin instel na die moord op ‘n egpaar van Mosselbaai. Die organisasie vra sterker patrollies, vinniger noodreaksiestelsels en verbeterde kommunikasiekanale vir besoekers. Hy het ook aangebied om te help met hommeltuig-monitering om sekerheidsmaatreëls te verbeter. Woordvoerder Lambert de Klerk sê dringende optrede is nodig om openbare vertroue te herstel en besoekers beter te beskerm:
Nuus uit die buiteland:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê die Demokratiese Republiek die Kongo se Ituri-provinsie is nie net die middelpunt van die dodelike Ebola-uitbreking nie, maar ook een van die gebiede wat die swaarste deurloop onder ernstige hongersnood. Volgens die Geïntegreerde Voedselsekuriteitsfase-klassifikasie se jongste inligting ondervind meer as tien-miljoen mense hongersdnood in Ituri, Noord-Kivu, Suid-Kivu en Tanganjika. Dit word veroorsaak deur konflik, ekonomiese druk, beperkte toegang tot noodsaaklike dienste en vervalle infrastruktuur. Die WGO sê mense wat verswak is deur honger word makliker siek.
# Rugby: Die Stormers se Projek 2029 het stukrag gekry met die terugkeer van die Springbok-puntemasjien Cheslin Kolbe. Die projek mik daarna om die span te posisioneer om die Kampioenebeker die eerste keer te wen. Die direkteur van rugby, John Dobson, sê hulle waardeer Kolbe se finansiële opoffering om na Kaapstad terug te keer, want hy kon baie meer verdien het as hy in Japan gebly het. Dobson ontken dat dit ‘n aftreepos is. Kolbe sal in Julie by die Stormers aansluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-719-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-485-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….