Nuus 06:00
BULLETIN 27 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC stel plaaslike regeringshervorming as topprioriteit voor die November-verkiesing
# Bheki Cele en Sisisi Tolashe word na die ANC se Tugkomitee verwys
# En rugby: Die Junior Bokke behaal hul tweede oorwinning in die Internasionale Onder-20-reeks
# Die ANC sê die regstelling van plaaslike regering sal sy hooffokus wees voor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. Die party se nasionale uitvoerende komitee het agt onderpresterende munisipaliteite geïdentifiseer vir dringende omkeerplanne, terwyl hy politici opdrag gegee het om die lewering van paaie, water en elektrisiteit te prioritiseer. Die ANC-sekretaris-generaal, Fikile Mbalula het aan die media gesê die verkiesing sal ‘n toets wees van die party se vermoë om dienslewering te verbeter en openbare vertroue te herwin:
# Die ANC het vyf senior lede na die party se Nasionale Tugkomitee verwys, insluitend voormalige ministers Bheki Cele en Sisisi Tolashe, omdat hulle na bewering die organisasie in oneer gebring het. Die ander wat na die komitee verwys is, is die burgemeesterskomiteelid van die Stad Johannesburg, Sithembiso Zungu, die burgemeester van die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit, Thanduxolo Khalipha, en die ANC Sedibeng-streeksekretaris, Jason Mkhwane. President Cyril Ramaphosa het Tolashe vroeër die maand as minister van Maatskaplike Ontwikkeling afgedank, nadat ‘n reeks bewerings oor onverklaarde skenkings aan die ANC-vroueliga aan die lig gekom het.
# Statistiek Suid-Afrika se jongste algemene huishoudelike opname toon bestendige verbeterings in toegang tot basiese dienste oor die afgelope twee dekades. Verbeterde sanitasie het gestyg van 62-persent in 2002 tot 84-persent in 2025, terwyl toegang tot elektrisiteit tot net meer as 90-persent toegeneem het. Internettoegang het uitgebrei na ongeveer 85-persent van huishoudings, maar posdienste bly afneem. Niel Roux van Statistiek SA sê vullisverwydering bly beperk in baie plattelandse gebiede:
# Die regering het ingegryp om moontlike kragonderbrekings in Johannesburg te voorkom nadat Eskom gedreig het om elektrisiteit af te skakel weens die stad se skuld van vyf-miljard-rand. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het ‘n nuwe ingryping aangekondig wat ‘n afgesonderde betalingstelsel en ‘n nouer vennootskap tussen Eskom en City Power behels om inkomste te bestuur en te verseker dat betalings gemaak word. Ramokgopa het aan die media gesê die stad is te belangrik om te misluk gegewe sy rol in die ekonomie:
# Noord-Korea het gister verskeie projektiele, waaronder minstens een kortafstand-ballistiese missiel, langs die land se weskus afgevuur. Dit is Noord-Korea se eerste missiellansering sedert 19 April, toe die land verskeie kortafstand- ballistiese missiele getoets het. Suid-Korea se ministerie van Buitelandse Sake het Noord-Korea versoek om te reageer op Seoel se vredesvoorstelle en pogings om spanning te verminder. ‘n Woordvoerder van die ministerie het gesê Seoel sal volhou met sy doelwit om die Koreaanse Skiereiland se kernontwapening te eerbiedig, en sal poog om die Noord-Koreaanse kernkwessie in noue samewerking met die internasionale gemeenskap op te los.
# Rugby: Die Junior Springbokke het gister hul tweede oortuigende oorwinning in die Internasionale Onder-20-reeks behaal deur Fidji met 82-25 te klop by die Wynberg Boys’ High School in Kaapstad. Suid-Afrika het 12 drieë gedruk, met Luan Giliomee wat met sy terugkeer na die span ‘n driekuns behaal het. Verlede week het die Junior Bokke Chili met 97-0 in hul openingswedstryd verslaan. In die ander wedstryd het Georgië Chili met 59-26 geklop. In die laaste ronde wedstryde wat Saterdag in Stellenbosch gespeel word, sal Suid-Afrika Georgië pak, terwyl Fidji teen Chili te staan sal kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-695-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-500-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 96-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….