Nuus 18:00
BULLETIN 26 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC waarsku teen haat tydens immigrasie-betogings
# Buti Manamela kondig uitbreiding aan van aanlyn leerwerk
# En, SAFTU vra alle regerings om die reg om te staak te respekteer en te beskerm
# Die ANC waarsku teen haatspraak, geweld en eiereg teenoor buitelandse burgers te midde van betogings teen onwettige immigrasie. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die meeste betogers eis sterker regeringsoptrede met grensbestuur, korrupsie en onwettige immigrasie. Mbalula beklemtoon betogings moet regmatig en menslik bly, en waarsku xenofobie skaad Suid-Afrika se beeld en waardes:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het planne aangekondig om die Nasionale Oop Leerstelsel uit te brei deur aanlyn kolleges vir TVET- en gemeenskapsonderwys en –opleidingsprogramme. Manamela het tydens sy departement se begrotingsrede in die Parlement gesê die projek sal onderwys meer toeganklik maak deur studente se reishindernisse te verminder. Hy het planne onthul vir digitale loopbaandienste wat toeganklik is op selfone, kurrikulumvennootskappe in kunsmatige intelligensie, datawetenskap, sagteware-ontleding en kuberveiligheid:
# Die vakverbond, SAFTU, sê die Internasionale Geregshof se uitspraak oor die reg om te staak is ‘n reuse-oorwinning vir werkers, vakbonde en progressiewe bewegings wêreldwyd. Die hof het bevestig dat die reg om te staak beskerm word deur die Internasionale Arbeidsorganisasie se vryheid van assosiasie en beskerming van die reg om te organiseer. SAFTU-woordvoerder, Asive Dyani, sê die hof erken dat vryheid van assosiasie betekenisloos is as werkers die praktiese maniere om hulself kollektief te verdedig, ontsê word:
# Misdaadstatistieke van Januarie tot Maart in die 2025/2026-boekjaar toon dat Gauteng ‘n gemiddeld van 27 ontvoerings per dag aanteken. Meer as die helfte van die land se ontvoerings vind in die provinsie plaas. ‘n Kriminoloog, Jacob Mofokeng, het aan EWN gesê sindikate teiken slagoffers deur middel van kapings, afspraak-toepassings en losprys-skemas. Hy sê slagoffers word dikwels gedwing om hul bankrekenings leeg te maak of lenings op hul bank-toepassings aan te gaan. Mofokeng sê die eerste 24 uur ná ‘n ontvoering is die heel belangrikste.
# Sokker: Mexiko se president, Claudia Sheinbaum, sê haar land sal as gasheer vir Iran se nasionale span optree tydens die Wêreldbeker-toernooi nadat Amerika volgens berigte geweier het om die groep oornag te huisves. Sy sê FIFA het Mexiko om hulp genader te midde van voortdurende spanning in die Midde-Ooste en veiligheidskwessies. Iran se oefenbasis sal in Tijuana, Mexiko, wees, terwyl hul toernooiwedstryde steeds in Amerika geskeduleer is. Iranse amptenare sê FIFA het hulle verseker dat spelers en personeel visums sal ontvang om aan die kompetisie deel te neem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-539-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-511-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 97-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….