Nuus 17:00
BULLETIN 26 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC waarsku teen haat tydens immigrasie-betogings
# Wes-Kaapse ouers sal hierdie week skoolplasingsuitslae ontvang
# En, ‘n militêre leier in die DRK sê Ebola vereis vinnige reaksie om ramp te voorkom
# Die ANC waarsku teen haatspraak, geweld en eiereg teenoor buitelandse burgers te midde van betogings teen onwettige immigrasie. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die meeste betogers eis sterker regeringsoptrede met grensbestuur, korrupsie en onwettige immigrasie. Mbalula beklemtoon betogings moet regmatig en menslik bly, en waarsku xenofobie skaad Suid-Afrika se beeld en waardes:
# Die Werkfonds van die Nasionale Tesourie het sy 13de befondsingsronde geopen, daarop gemik om volhoubare werkskepping landwyd ‘n hupstoot te gee. Die hoof van die fonds, Najwah Allie-Edries, sê dit fokus op die groen en informele ekonomiej. Die fonds het sedert 2011 meer as 7,7-miljard-rand toegewy aan projekte wat meer as 343-duisend werksgeleenthede en internskappe ondersteun. Die jongste ronde teiken die jeug, vroue en benadeelde gemeenskappe deur middel van vernuwende werkoplossings. Die aansoeke vir die befondsingsronde sluit op 30 Junie.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê uitkomste vir aansoeke vir die graad R, een en agt toelatings vir volgende jaar wat betyds ingedien is, sal van Donderdag af beskikbaar wees. Ouers en voogde word versoek om nie paniekerig te raak as hul kind nie onmiddellik geplaas is nie. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, het ouers aangemoedig om vinnig een aanbod te aanvaar en hul keuses teen 15 Junie te bevestig, met meer plekke wat tydens die proses beskikbaar sal raak:
# Die militêre leier van die Ituri-provinsie in die Demokratiese Republiek die Kongo vergelyk die stryd om die Ebola-uitbreking hok te slaan met ‘n oorlog waarvoor daar nie genoeg hulpbronne is nie. Johnny Luboya Nkashama het aan die Franse uitsaaier RFI gesê mense in gebiede wat geraak is kry nie genoeg kos nie. Hy bepleit vinnige reaksie om ‘n ramp te voorkom. Sedert die uitbreking op 15 Mei is meer as 900 vermoedelike gevalle aangemeld, met 223 sterftes. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het intussen ‘n internasionale openbare noodtoestand afgekondig.
# Sokker: Die hoofafrigter van Mamelodi Sundowns, Miguel Cardoso, het die Premierliga-leierskap versoek om die kalender te hersien en gewaarsku ‘n oorlaaide wedstrydskedule benadeel klubs wat in Afrika meeding, en verhoog die risiko van beserings. Dit volg na Sundowns se CAF Kampioeneliga-oorwinning nadat ‘n gelykopuitslag van 1-1 teen AS FAR in Marokko tot ‘n 2-1 algehele oorwinning gelei het. Cardoso sê Suid-Afrikaanse klubs het beter ondersteuning en skedulering nodig om suksesvol mee te ding:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-736-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-525-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 96-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….