Nuus 14:00
BULLETIN 26 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa nader die hof om ‘n paneel se verslag oor Phala Phala tersyde gestel te kry
# Canal-Ploes sny koste terwyl DStv se intekenaarverliese voortduur
# En sokker: Kommer bestaan oor Messi se fiksheid kort voor die Wêreldbekertoernooi
# President Cyril Ramaphosa het ‘n aansoek by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien vir die hersiening en tersydestelling van ‘n onafhanklike paneel se verslag oor Phala Phala. Hy betoog in hofstukke die paneel het sy mandaat wanvertolk en hom laat lei deur onbewese bewerings toe bevind is hy het moontlik die Grondwet oortree en dat daar ‘n belangebotsing was. Die hofaansoek volg nadat die Konstitusionele Hof beslis het die Nasionale Vergadering het onwettig opgetree met die verwerping van die paneel se verslag.
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê die regering bly gefokus op groei, werkskepping en die vermindering van armoede deur onderwys en vaardigheidsontwikkeling. Hy het tydens sy departement se begrotingsrede in die Parlement planne uiteengesit om die vaardigheidstelsel te hervorm met ‘n dubbele opleidingsmodel wat klaskamer-onderrig en werkplek-ervaring verbind. Manamela lê klem op die versterking van Kolleges vir Tegniese en Beroeps-onderwys en –opleiding as sentrums vir beroepsopleiding:
# Die Franse mediareus Canal-Ploes sny drasties koste in MultiChoice namate DStv steeds intekenare reg oor Afrika verloor. Die onderneming het bevestig hy sal volgende maand op die Johannesburgse Aandelebeurs genoteer word ná sy verkryging van MultiChoice. Showmax is reeds gesluit en vrywillige skeidingspakkette is aan personeel gebied. Ontleders sê Canal-Ploes herstruktureer die onderneming om finansiële verliese te beperk en die aanbod te vereenvoudig, terwyl toekomstige planne moontlik die integrasie van stroomplatforms soos Netflix by DStv kan behels.
# Sokker: Argentinië se kaptein, Lionel Messi, sukkel met ‘n besering slegs ‘n paar weke voor die land sy Wêreldbekertitel moet begin verdedig. Hy het Sondag die veld verlaat tydens ‘n wedstryd vir Inter Miami en is later met spiermoegheid in sy linker-agterkniesening gediagnoseer. Die Amerikaanse klub kon nie bevestig wanneer die 38-jarige superster weer na die veld sal terugkeer nie en sê dit sal afhang van sy kliniese en funksionele herstel. Argentinië se eerste groepwedstryd is teen Algerië in Kansas City op die 16de van volgende maand.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-115-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-533-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-35-sent per vat.
# En ten slotte: Die landbou-organisasie TLU SA sê sy jongboer van die jaar-kompetisie speel ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van toekomstige landbouleiers en die versterking van die landbousektor. Die organisasie moedig jong boere aan om nie hul potensiaal te onderskat nie en voor 19 Junie vir vanjaar se kompetisie in te skryf. Bennie van Zyl van TLU SA sê die kompetisie plaas die kollig op jong produsente wat tot leiers kan ontwikkel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….