Nuus 11:00
BULLETIN 26 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê geen griewe regverdig aanvalle op mense op grond van hul nasionaliteit nie
# Netanyahu sê Israel gaan meer aanvalle teen Hizbollah in Libanon uitvoer
# En krieket: ‘n Plek in die IPL se eindstryd is vandag op die spel in Dharamsala
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, beklemtoon dat immigrasie ‘n gedeelde verantwoordelikheid in ʼn streek is en nie net ʼn Suid-Afrikaanse probleem nie. Burgerlike groepe beskuldig onwettige immigrante van misdaad en dat hulle werk by plaaslike inwoners wegneem. Lamola sê die regering erken dat hy sy vermoë moet verbeter om ongedokumenteerde migrasie te hanteer, en seker maak wetstoepassing vind regverdig plaas, maar herhaal dat aanvalle op buitelanders onwettig is:
# Business Leadership South Africa sê munisipaliteite se skuld van meer as 130-miljard-rand skep vir Eskom die grootste risiko en is die grootste struikelblok op die pad na finansiële herstel. Die kragverskaffer het ʼn volle jaar gelede laas beurtkrag ingestel wat ʼn groot verbetering is op die situasie drie jaar gelede toe die land 300 dae van beurtkrag beleef het. BLSA se uitvoerende hoof, Busiswe Mavuso, sê Eskom se herstel kom terwyl belangrike hervormings aan die algehele elektrisiteitsektor aan die gang is.
# AfriForum beskuldig die Stad Johannesburg daarvan dat hy sinvolle openbare deelname aan die begrotingsproses in die wiele ry. Die metro het geweier om redes te verskaf vir die voorgestelde verhoging van 65,6-persent van die waterbestuursheffing vir huishoudings. Huiseienaars betaal tans 65-rand-agt-sent, maar die voorgestelde verhoging kan dié bedrag opstoot tot 107-rand-74 per maand. Marais de Vaal van AfriForum sê dit kom voor of inwoners moet opdok vir die metro se mislukkings:
Nuus uit die buiteland:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy het die Leër opdrag gegee om aanvalle teen die Irans-gesteunde Hizbollah in Libanon te verskerp. Dit volg ondanks Israel en Libanon se ooreenkoms om die skietstilstand van 45-dae te verleng. Hizbollah het sedert die skietstilstand hommeltuie met plofkoppe op Israelse magte en noord-Israelse dorpe afgevuur waarin minstens elf soldate dood is. In Libanon is minstens 608 mense in dieselfde tydperk in Israelse aanvalle dood. Netanyahu sê die Israelse Weermag sal sy slaankrag verhoog en Hizbollah vernietig.
# Krieket: Die Indiese Premierliga het die uitspeelrondes bereik en ‘n plek in die eindstryd is op die spel in vandag se eerste kwalifiseringswedstryd. Die voorste twee spanne in die liga-fase, die verdedigende kampioen, Royal Challengers Bengaluru, en Gujarat Titans, speel in Dharamsala. Die wenner dring deur na Sondag se eindstryd, terwyl die verloorder nog ‘n kans kry in Vrydag se tweede kwalifiseerder. Dit sal wees teen die wenner van môre se uitskakelstryd tussen Rajasthan Royals en Sunrisers Hyderabad in New Chandigarh.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-788-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-532-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….