Nuus 07:00
BULLETIN 26 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement benoem die 31 lede wat in die ampsklagkomitee sal dien
# ‘n Groep adjunkministers sal ‘n taakspan lei om ongedokumenteerde migrante te hanteer
# En Cosatu versoek die Reserwebank om die repokoers onveranderd te laat
# Die Parlement het die name bekendgemaak van die 31 lede wat in die ampsklagkomitee sal dien om president Cyril Ramaphosa se lot te bepaal. Politieke partye het hul verteenwoordigers se name voor Vrydag se sperdatum ingedien terwyl die ANC sy lys oor die naweek afgehandel het. Die ANC het nege lede in die veelparty-komitee, insluitend Doris Mpapane, Cameron Dugmore en Faith Muthambi. Die DA het vyf lede, onder andere hoofsweep Glynnis Breytenbach. Ander name sluit in EFF-leier Julius Malema en die MK-party se parlementêre leier, John Hlophe.
# Die groepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit het ‘n taakspan bestaande uit adjunkministers aangewys om saam met wetstoepassingsagentskappe te werk aan die kwessie van onwettige immigrante. Die groepering het gister in Pretoria vergader met verteenwoordigers van politieke partye, groepe en verenigings wat betrokke is by betogings oor ongedokumenteerde migrante. Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê adjunkministers van Polisie en Binnelandse Sake, Polly Boshielo, en Njabulo Nzuza, sal die taakspan lei:
# Die vakbondfederasie Cosatu het die Suid-Afrikaanse Reserwebank versoek om nie die terugkoopkoers tydens sy komende vergadering te verhoog nie. Die federasie voer aan werkers verkeer reeds onder druk weens hoë lewenskoste, hoofsaaklik as gevolg van stygende brandstofpryse. Hy waarsku hoër rentekoerse sal skuld verhoog, die ekonomie vertraag en werkloosheid, wat reeds uitermate hoog is, vererger. Matthew Parks van Cosatu doen ‘n beroep op voortgesette verligting van die brandstofheffing om die druk op huishoudings te verlig:
# AfriForum het die Gautengse Departement van Vervoer gewaarsku om sy beplande nuwe nommerplaatprojek te staak of regstappe te verwag. Die burgerregte-organisasie voer aan die projek moet opgeskort word tot die Mededingingstribunaal sy saak voltooi het teen drie vervaardigers wat beskuldig word van prysvasstelling vir nommerplate. Louis Boshoff van AfriForum sê die regering was nie duidelik oor koste en sperdatums nie, en motoriste behoort nie gedwing te word om vir duur nuwe nommerplate te betaal nie:
# Iran se ministerie van Buitelandse Sake sê ʼn groot deel van die probleme met Amerika is opgelos, maar ʼn ooreenkoms is nog ver. Geskille wat ʼn vredesooreenkoms keer, sluit in taal wat Iran se kernprogram betref en die opheffing van sanksies. ʼn Moontlike ooreenkoms sluit volgens berigte in dat die bestaande skietstilstand met 60 dae verleng word, die Straat van Hormoes oopgestel word vir internasionale vaartuie en ʼn plan vir verdere onderhandelinge oor die kernprogram. Die ministerie se woordvoerder, Esmail Baghaei, sê hulle fokus op die beskerming van Iran se belange.
# Rugby: Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, het weens rotasie en beserings talle veranderinge aangebring aan sy groep van 23 vir die tweede rondte van die Internasionale O-20-reeks teen Fidji wat vandag in Kaapstad plaasvind. Die losvoorspelers Risima Khosa en Vuyo Gwiji word vervang deur Quintin Potgieter en Luke Cannon. Jordan Steenkamp vervang Lindsey Jansen op linkervleuel en middelveldspeler Christian Vorster draf uit as buitesenter. Luan Giliomee keer terug as heelagter. Die Junior Bokke het Chili verlede week in die openingsrondte met 97-0 verpletter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-746-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-543-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 95-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….