Nuus 06:00
BULLETIN 26 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa belowe 81,5-miljoen-rand in reaksie op die Ebola-uitbreking
# Boere vier ‘n hofoorwinning in die stryd teen bek-en-klouseer
# En Corruption Watch rig ’n waarskuwing in hul nuwe jaarlikse korrupsieverslag
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika sal ‘n aanvanklike 81,5-miljoen-rand bydra tot die Afrika-sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming om die vasteland se reaksie op die Ebola-uitbreking te versterk. Die uitbreking, wat hoofsaaklik die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda raak, het die lewens van 220 mense geëis, en daar is meer as 900 moontlike gevalle. Ramaphosa het gister tydens ‘n hoëvlak-vergadering van Afrika-gesondheidsministers gesê Afrika-leiers het hulself agter ‘n omvattende voorbereidings- en reaksieplan van 5,2-miljard-rand vereenselwig:
Ramaphosa sê voorts Afrika kan nie voortgaan om dodelike epidemies in die gesig te staar sonder billike toegang tot diagnose, entstof en behandeling nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê dit kan tot nege maande duur voordat ‘n entstof gereed is vir die Bundibugyo-stam van Ebola. Ramaphosa het gesê dat hoewel daar geen terapeutiese middels en entstowwe is nie, daar rede is om hoopvol te wees:
# Die Suider-Afrika Agri-inisiatief, Saai, sê ‘n uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria oor bek-en-klouseer is ‘n groot oorwinning vir vee- en wildboere. Die hof het bevind landbouminister John Steenhuisen en senior amptenare het nie voldoende op die uitbreking reageer nie, wat gelei het tot vertragings in inentingspogings en aansienlike verliese in die sektor. Francois Rossouw van Saai sê die uitspraak bied hoop vir sterker optrede om boere te beskerm:
# Corruption Watch het die regering versoek om dringend aanspreeklikheid en openbare deelname te versterk in die stryd teen korrupsie. Die organisasie sê in sy 2025-jaarverslag hy het verlede jaar meer as twee-duisend-200 klagtes ontvang, met bedrog, omkopery en wanadministrasie van die belangrikstes. Daar word steeds die meeste oor wetstoepassing gekla, terwyl Gauteng die hoogste aantal gevalle aangeteken het. Corruption Watch sê die stryd teen korrupsie kan nie net aan wetstoepassing oorgelaat word nie en versoek alle Suid-Afrikaners om te help om oortredings bloot te lê.
# Rugby: Die veelsydige Springbok Cheslin Kolbe sê hy het altyd geglo hy sal uiteindelik na Kaapstad terugkeer. Die beëindiging van sy verbintenis met sy Japannese klub is gister bevestig, en hy sal van Julie af weer vir die Stormers speel. Die 32-jarige dubbele Wêreldbekerwenner het sy debuut in 2018 vir Suid-Afrika gemaak en hy het sedertdien in 49 toetse gespeel en 136 punte aangeteken. Hy het die Stormers in 2017 verlaat om vir Toulouse in Frankryk te speel en in 2023 na Japan verhuis. Kolbe sê dis wonderlik om terug te keer na die span waar alles vir hom begin het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-28-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-76-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-571-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-72-sent per vat.
# En ten slotte: Professor Liesl Zühlke van die Universiteit van Kaapstad het die 2026 L’Oréal-Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie vir Vroue in Wetenskap se Internasionale Toekenning vir Afrika en die Arabiese State gewen. Die toekenning erken Zühlke se werk in hart- en kardiovaskulêre wetenskap, veral die verbetering van behandeling vir kinders en vroue in lae- en middelinkomste lande. Zühlke hoop die erkenning sal die aandag vestig op hartsiektes by kinders, wat dikwels min wêreldwye fokus kry. Die universiteit sê Zühlke se navorsing het gehelp om gesondheidstelsels te verbeter en wêreldbeleid te beïnvloed.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….