Nuus 17:00
BULLETIN 25 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, bepleit die beskerming van Afrika se generasierykdom
# Bewyse van die Valke laat twyfel ontstaan oor die kontantbedrag wat by Phala Phala gesteel is
# En, die Pous vra vir KI-regulering en waarsku sekere wapens is nou buite menslike beheer
# Die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, vra bestuurskundiges om Afrika se generasierykdom te beskerm en verantwoordingstelsels te versterk. Gcaleka het tydens die Afrika-federasie van Interne Ouditeurs se forum oor korporatiewe regering gewaarsku korrupsie is steeds diep ingeburger en kos Afrika jaarliks miljarde. Sy het korrupsie beskryf as ‘n gekoördineerde stelsel, aangevuur deur swak toesig en onreëlmatige aanstellings. Gcaleka sê sterker vennootskappe is noodsaaklik om Afrika se ontwikkelingsdoelwitte ingevolge Agenda 2063 te bereik:
# Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, veroordeel wat hy noem, die toenemende anti-Afrika onverdraagsaamheid wat as patriotisme vermom word. Maimane het op Afrikadag gewaarsku teen bewegings wat mede-Afrikane deur geweld en diskriminasie teiken. Hy het gesê sulke optrede verraai die gees van Ubuntu en Pan-Afrika-eenheid wat deur leiers soos die anti-koloniale Afrikanis van Guinee-Bissau, Amílcar Cabral, voorgestaan word. Maimane waarsku ook teen stamgebondenheid en xenofobie en sê Afrika se toekoms hang af van eenheid en ekonomiese groei:
# Nuwe forensiese bewyse in die Phala Phala-inbraakverhoor laat twyfel ontstaan oor president Cyril Ramaphosa se bewering dat ongeveer tien miljoen rand in 2020 op sy plaas in Limpopo gesteel is. Volgens MDN News het ondersoekers van die Valke aan die Modimolle-streekhof in Limpopo gesê die finansiële ontleding verbind die beskuldigdes met meer as 15-miljoen-rand in kontantdeposito’s en luukse besteding na die inbraak, wat lei tot vrae oor moontlike onverklaarde buitelandse valuta. Hierdie onthulling kom te midde van die Konstitusionele Hof se uitspraak wat die ampsklagverrigtinge oor die skandaal laat herleef het.
# Pous Leo het regerings gemaan om die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie-stelsels streng te reguleer en gewaarsku dit kan waninligting versprei, konflik aanhits en die wêreld op ‘n pad van onophoudelike oorlog plaas. In sy eerste omvangryke dokument, getiteld Magnificent Humanity, het hy ook kommer uitgespreek dat leiers oorloë kan begin om burgers se aandag van binnelandse probleme af te lei. Leo het die afgelope maande sterk standpunt ingeneem en die misnoeë van die Amerikaanse president Donald Trump ontlok nadat hy die oorlog in Iran gekritiseer het. Die dokument is reeds sedert sy verkiesing verlede jaar in wording.
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging se kongres in Boksburg het besluit om vier geskorste lede van die nasionale uitvoerende komitee ná dissiplinêre optrede te verwyder. Visepresident Linda Zwane sê Monde Montshiwa, Gladwin White, Lebogang Riet en Bhuda Mathathe is beskuldig van beleids-oortreding en dat hul die organisasie oneer aangedoen het. Hy verduidelik dit volg op die ontwrigte vergadering in Maart, waar sommige gevra het vir president Danny Jordaan se bedanking:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-347-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-567-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….