Nuus 15:00
BULLETIN 25 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie beëindig die brandstofheffingverligting
# TLU SA verwelkom die aankoms van 3,5-miljoen bek-en-klouseer enstowwe
# En rugby: Cheslin Kolbe se terugkeer na Kaapstad word bevestig
# Die Nasionale Tesourie het sy tydelike brandstofheffingsverligting beëindig en sodoende ‘n maatreël geskrap wat gehelp het om motoriste teen hoë brandstofpryse te beskerm. Die besluit beteken verbruikers sal waarskynlik verhoogde brandstofkoste ondervind namate die belastingaanpassing in werking tree. Die Tesourie sê die verligting was altyd net ‘n korttermyn-ingryping. Die stap sal na verwagting vervoerkoste en inflasiedruk beïnvloed, met belanghebbendes wat waarsku oor ‘n kettingreaksie in die ekonomie, veral vir huishoudings en ondernemings wat sterk afhanklik is van brandstof vir logistiek en pendel.
# Die landbou-organisasie TLU SA het die aankoms verwelkom van die eerste besending van 3,5-miljoen dosisse van Argentinië se entstof teen bek-en-klouseer. Dit is die grootste besending entstof teen die siekte wat Suid-Afrika nog ingevoer het. Bennie van Zyl van TLU SA sê die Departement van Landbou moet ‘n toewysings-verspreidingskomitee aanstel wat boere en landbou-organisasies insluit:
# ActionSA gaan die Direktoraat vir Voorkeur-misdaadonversoeke vra vir ‘n strafregtelike ondersoek na Gautengse amptenare wat verbind word met die brand-herstelprojek in die Charlotte Maxeke Johannesburgse Akademiese Hospitaal. Matthew George van die party verwys na ‘n verslag van die Openbare Beskermer wat dui op wanadministrasie, onreëlmatige besteding, swak finansiële beheermaatreëls en moontlike oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Hy vra ‘n gelyktydige ondersoek deur die Ouditeur-generaal en strenger parlementêre toesig:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, het waninligting oor die Werkloosheidsversekeringsfonds se aanlyn eisproses verwerp. Teen verlede maand was meer as 4,5-miljoen eise verwerk en uitbetaal, en dit oortref die syfers wat onder die ou uFiling-stelsel aangeteken is. Meth sê die platform vereenvoudig eise deur regstreekse indiening, onmiddellike opsporing en outomatiese kommunikasie. Sy het verseker geen aansoeke het verlore gegaan nadat die ou eisportaal gesluit is nie.
# Rugby: Die blitsvinnige Springbok Cheslin Kolbe se terugkeer na Kaapstad is bevestig. Die 32-jarige veelsydige agterspeler het in 2017 die Stormers vir die Franse span Toulouse verlaat, en in 2023 na Japan verhuis. Die boorling van Kraaifontein in die Moederstad het in 2018 sy buiging vir Suid-Afrika gemaak en sedertdien 49 toetse gespeel en 136 punte aangeteken. Kolbe het sy span, Tokyo Suntory Sungoliath, bedank omdat hul sy tyd in Japan spesiaal gemaak het. Hy sluit begin Julie by die Stormers aan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-360-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-573-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….