Nuus 13:00
BULLETIN 25 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Rentekoersverhoging dreig te midde van inflasiedruk
# Tokyo Sexwale kritiseer Cyril Ramaphosa oor kinderagtige verduidelikings rakende die Phala Phala-saak
# En Opkikkerspele: Slegs een wêreldrekord is oortref op die omstrede Spele
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee vergader Donderdag terwyl ekonome waarsku dat ‘n rentekoersverhoging waarskynlik is met inflasie wat toegeneem het weens die oorlog in die Midde-Ooste. Die inflasiekoers het verlede maand tot vier persent gestyg teenoor 3,1-persent in Maart, wat deur hoër vervoer- en energiekoste aangevuur is. FNB en Sanlam-beleggings sê dit het markverwagtinge verskuif en die Reserwebank kan moontlik sy beleid verskerp om sy inflasieteiken van drie-persent te beskerm.
Oliepryse het intussen vandag ‘n twee-weke laagtepunt bereik met ‘n daling van meer as vyf-persent, aangevuur deur groeiende optimisme oor ‘n moontlike vredesooreenkoms tussen Amerika en Iran. Die lande het die naweek vordering getoon in pogings om ‘n ooreenkoms te bereik, met gesprekke oor die heropening van die Seestraat van Hormoes en Teheran se kernprogram. Brent-ruoliepryse het in Asië met 5,5-persent gedaal, terwyl Amerikaans-verhandelde ru-oliepryse 5,9-persent laer was. Ontleders sê egter indien ‘n ooreenkoms bereik word, kan dit nog maande neem voor olieverskepings deur die seestraat volledig terugkeer na normaal.
# Die ANC-veteraan Tokyo Sexwale kritiseer president Cyril Ramaphosa oor die Phala Phala-skandaal en noem sy verduideliking kinderagtige onsin. Die voormalige hoof van die Staatsveiligheidsagentskap, Arthur Fraser, het die skandaal onthul, wat beteken dat Ramaphosa ‘n ampsklag-proses moet deurgaan. Sexwale het op die SMWX-potgooi bewerings bevraagteken dat onverklaarde Amerikaanse dollars wat op sy plaas gevind is, betaling was vir die verkoop van beeste aan die Soedanese sakeman Hazim Mustafa:
# Tax Justice SA vra strenger wette teen die onwettige handel in sigarette. Dit volg nadat ‘n 56-jarige sigaretsmokkelaar van Limpopo verlede week tot 13-jaar tronkstraf gevonnis is. Toni Gumbo is betrap met 36 grootmaat-kaste Remington Gold-sigarette wat in bokse versteek was. Die onwettige vrag het ‘n geraamde straatwaarde van 360-duisend-rand. Tax Justice se leier, Yusuf Abramjee, sê onwettige handelaars moet as ekonomiese saboteurs behandel word en nie as geringe oortreders nie:
# Opkikkerspele: Die Griekse swemmer Kristian Gkolomeev het die enigste wêreldrekord oortref op die eerste Opkikkerspele in Las Vegas. Hy het die 50-meter-vryslag in 20,81 sekondes voltooi, maar dit sal nie in die rekordboeke opgeteken word nie want die Spele laat die gebruik van opkikkers toe wat in hoofstroom-sport verbied word. Die Australiër Cameron McEvoy het die bestaande wêreldrekord van 20,88-sekondes in Maart opgestel op ‘n amptelike byeenkoms. Sowat 42 atlete het aan die Spele deelgeneem, met 91-persent van hulle wat testosteroon gebruik, en meer as 70-persent menslike groeihormone.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-465-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-560-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….