Nuus 11:00
BULLETIN 25 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê daar is ’n sterk kultuur van deelnemende demokrasie in Suid-Afrika
# Die EFF beskuldig die ANC dat hy die Phala Phala-ampsklagproses dwarsboom
# En tennis: Djokovic spring op ‘n wennoot weg op die Franse Ope, maar Fritz en Raducanu val uit
# President Cyril Ramaphosa sê die nasie het sedert die aanvaarding van Suid-Afrika se Grondwet ‘n kultuur gebou wat sterk, deelnemend, voortdurend ontwikkelend en geanker is in die demokratiese waardes wat waardevol geag word. Dis vanjaar 30 jaar sedert die Grondwet onderteken is. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief daar is ʼn sterk kultuur van deelnemende demokrasie wat begin het met die opstel van die Grondwet. Hy sê die verbintenis aan grondwetlikheid, deursigtigheid en die oppergesag van die reg ondersteun openbare vertroue in die land se demokrasie.
# Die EFF beskuldig die ANC dat hy doelbewus die Phala Phala-ampsklagproses dwarsboom deur nie lede op die komitee aan te stel nie. Volgens berigte het die ANC die sperdatum van 22 Mei misgeloop omdat hoofsweep Mdumiseni Ntuli en sekretaris‑generaal Fikile Mbalula blykbaar oor verteenwoordiging verskil het. Die EFF sê enige redelike waarnemer sou agterkom dat die huidige vertragings deel is van ʼn breër politieke strategie om Ramaphosa teen aanspreeklikheid te beskerm en die ampsklagproses te verswak nog voor dit begin.
# Gauteng se LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Jacob Mamabolo, beskryf die omkeerstrategie vir plaaslike regering as ʼn langtermynprogram om munisipaliteite te herbou en openbare vertroue te herstel. Dit is gemik op beter bestuur, finansiële herstel, beskerming van infrastruktuur en dienslewering. Mamabolo sê gekoördineerde ingryping onder die strategie lewer reeds voordele deur beter oorsig, onderhoud aan infrastruktuur en tegniese ondersteuning aan sukkelende munisipaliteite:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê ʼn vredesooreenkoms met Iran is nog in wording. President Donald Trump het onderhandelaars gevra om nie oorhaastig te wees nie. Die huidige raamwerk behels glo dat die skietstilstand met 60-dae verleng word, die Seestraat van Hormoes heropen word, en verdere onderhandeling oor Iran se kernprogram. Rubio het tydens ʼn besoek aan Indië herhaal dat Trump nie ʼn swak ooreenkoms sal aanvaar nie:
# Tennis: Die derde-gekeurde Novak Djokovic het sy poging om ʼn rekord 25ste Grand Slam-titel te buit goed begin met ʼn oorwinning in die eerste ronde van die Franse Ope. Die Serwiër het die Fransman Giovanni Mpetshi Perricard geklop. Die sewende-gekeurde Taylor Fritz het verloor teen sy Amerikaanse landgenoot, Nishesh Basavareddy. Alexander Zverev van Duitsland het sy veldtog afgeskop met ʼn sege oor Benjamin Bonz van Frankryk. In die vroue-afdeling het die Britse nommer een, Emma Raducanu, in die eerste ronde teen die Argentyn Solana Sierra verloor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-337-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-561-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….