Nuus 06:00
BULLETIN 25 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAOG-ministers van Buitelandse Sake is daartoe verbind om lidstate te beskerm
# Donald Trump sê die VSA sal nie oorhaastig ‘n vredesooreenkoms met Iran sluit nie
# En rugby: ‘n Laat verandering vir die Blitsbokke aangesien Ronald Brown beseer is
# Die ministers van Buitelandse Sake van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap is verbind tot kollektiewe optrede om streeksintegrasie te versterk en lidstate te beskerm teen stygende globale geopolitieke en ekonomiese ontwrigting. Dit volg op die SAOG-ministers van Buitelandse Sake-vergadering wat die naweek in die Krugerwildtuin in Mpumalanga gehou is. In sy slotopmerkings het die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, bevestig dat ministers ook beleidseenvormigheid sal verbeter:
# Die EFF veroordeel die Parlement se Gesamentlike Staande Komitee oor Finansiële Bestuur se voortgesette weiering om sy grondwetlike verantwoordelikheid na te kom en verantwoording te doen vir die aanstelling en vergoeding van die sekretaris van die Parlement, Xolile George. Die party het tydens ‘n onlangse vergadering van die komitee formeel versoek dat die saak op die agenda geplaas word vir bespreking, insluitend ‘n versoek vir ‘n forensiese ondersoek na die proses en alle verwante vergoedingsaanpassings. Die EFF sê die komiteeleierskap en ANC-lede het egter geweier om dit te doen.
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, sê die regering gaan voort met die versterking van sy operasies om georganiseerde stropingsindikate te beveg. Suid-Afrikaanse owerhede het beslag gelê op agt-duisend-686 eenhede uitgeskulpte perlemoen met ‘n geraamde straatwaarde van ongeveer 1,6-miljoen-rand in twee afsonderlike voorvalle in Partridge Point in Simonstad en Grabouw. Drie verdagtes is ook in hegtenis geneem. Aucamp sê Suid-Afrika handhaaf ‘n streng beleid van geen-verdraagsaamheid teen stropery:
# Die Gautengse Departement van Onderwys erken daar is vertragings met die uitbetaling van skooltoelaes, wat 15 Mei in die onderskeie skoolrekenings gedeponeer sou word. Die woordvoerder, Onwabile Lubhelwana, sê die departement sal verseker die uitbetaling van die fondse begin volgende maand. Hy sê die fondse dek noodsaaklike bedryfskoste soos leer- en onderrig-ondersteuningsmateriaal, munisipale dienste, instandhouding en administratiewe koste.
# President Donald Trump sê gesprekke met Iran om ‘n vredesooreenkoms te bereik verloop op ‘n ordelike en konstruktiewe wyse. Volgens berigte bevat die ooreenkoms ‘n 60-dae-verlenging van die skietstilstand, die opening van die Straat van Hormoes, Teheran se vrye handel in olie, en gesprekke oor die beperking van Iran se kernprogram. Trump sê hy het sy verteenwoordigers opdrag gegee om nie oorhaastig ‘n ooreenkoms aan te gaan nie. Hy sê die vlootblokkade sal van krag bly totdat ‘n ooreenkoms bereik, gesertifiseer en onderteken is.
# Rugby: Die Springbok-sewesspeler, Ronald Brown is weens ‘n besering uitgesluit van die Sewes Wêreldkampioenskap-toernooie in Spanje en Frankryk. Ricardo Duartee, wat ‘n lid van die seëvierende spanne in Kaapstad en Perth was, is opgeroep vir die groep wat gister na Europa vertrek het. Die Blitsbok-afrigter Philip Snyman het reeds Gino Cupido en Dewald Human teruggeroep. Suid-Afrika het verlede maand die eerste van drie byeenkomste in Hongkong gewen en is boaan die punteleer wat vroeg volgende maand die algehele wenner sal bepaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-824-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-563-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….