Nuus 11:00
BULLETIN 24 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Moody’s erken die komende plaaslike regeringsverkiesing hou politieke en beleidsgevare in
# COSATU vra die Parlement om die openbare deelnamefase vir Wet op Beskermde Bekendmakings vinnig te open
# En sokker: Pirates is gekroon as die Betway Premierskap-kampioene
# Die hoofekonoom van Momentum Investments, Sanisha Packirisamy, sê Moody’s se basislyn-aannames verwag dat die regering van nasionale eenheid sy termyn sal uitdien. Sy sê egter Moody’s het erken die komende verkiesingsiklus, insluitend die plaaslike regeringsverkiesing die 4de November, hou politieke en beleidsgevare vir Suid-Afrika in. Packirisamy sê terwyl Moody’s bewus is dat hervormingsmomentum in die verkiesingstydperk kan verlangsaam, word ‘n volledige ommekeer van hierdie strukturele veranderings as hoogs onwaarskynlik beskou:
# Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, het die polisie in die land gevra om intelligensiegedrewe operasies te handhaaf en voort te gaan om die staat se gesag te versterk. Dit volg nadat die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke vrygestel is, wat ‘n afwaartse neiging in verskeie ernstige- en geweldsmisdaad-kategorieë aandui. Dimpane het polisiebeamptes se toewyding en harde werk geprys en sê die afname in misdaad in ‘n aantal kategorieë toon gefokusde operasies, gemeenskapsamewerking en gesamentlike wetstoepassings-ingrypings maak ‘n verskil.
# COSATU vra die Parlement om die openbare deelnamefase vir die Wet op Beskermde Bekendmakings vinnig te open om korrupsie doeltreffend te bestry en verklikkers te beskerm. Die aanvanklike venster vir skriftelike openbare voorleggings het amptelik gesluit en die wetgewende proses beweeg nou na parlementêre openbare verhore. COSATU se woordvoerder, Matthew Parks, sê Suid-Afrika kan dit nie bekostig om slap te lê as hulle verklikkers moet beskerm nie:
# Die Gesondheidsdepartement het die versekering gegee dat sy bedrywighede by forensiese patologiesentrums regoor die land soos gewoonlik sal voortgaan. Woordvoerder, Foster Mohale, sê dit volg na sporadiese betogings deur openbare forensiese patologie-personeel in sommige provinsies oor arbeidsverwante kwessies. Hy sê die departement en NEHAWU het ooreengekom oor hoe hulle die uitdagings rakende die indiensneming van forensiese patologiebeamptes gaan hanteer:
Drie Rooi Kruis-vrywilligers in die Demokratiese Republiek die Kongo is dood aan wat vermoedelik Ebola is. Hul het dit waarskynlik opgedoen toe hulle liggame hanteer het. Die vrywilligers is van die eerste bekende slagoffers van die Ebola-uitbreking in die DRK wat meer as 170 sterftes en 750 gevalle veroorsaak het. Die uitbreking is veroorsaak deur ‘n seldsame soort Ebola, bekend as Bundibugyo, waarvoor geen beproefde entstof bestaan nie en wat lei tot die dood van ongeveer ‘n derde van mense wat daardeur besmet is. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het Vrydag die openbare gesondheidsgevaar van die virus in die DRK van “hoog” na “baie hoog” verander.
# Sokker: Orlando Pirates is die Betway Premierskap-kampioene nadat hulle Saterdagmiddag ‘n 2-0 oorwinning oor Orbit College op die Mbombela-stadion behaal het. Die Buccaneers het een punt voor die naaswenners, Mamelodi Sundowns, geëindig, en ‘n ligatitel-droogte van 14 jaar beëindig. Die Soweto-reuse het hul vyfde PSL Premierskap-titel verower en sal volgende seisoen die CAF Kampioeneliga met nuwe vertroue aanpak. Orbit College is egter uit die Betway Premierskap geskuif nadat hulle 16de geëindig het. Die Mswenko Boys sal volgende seisoen aan die Motsepe-stigting-kampioenskap deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….