Nuus 13:00
BULLETIN 23 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFTU sê misdaad moet verstaan word as ‘n uitvloeisel van dieper sosio-ekonomiese toestande
# ‘n Vakbond vra dringende ingryping met Openbare Werke se spookwerker-betalings van 14-miljoen-rand
# En, Eskom handhaaf volgehoue stelselprestasie met minder onbeplande onderbrekings
# SAFTU sê misdaad in Suid-Afrika moet verstaan word as ‘n uitvloeisel van dieper sosio-ekonomiese toestande, insluitend massa-werkloosheid, ongelykheid, onvoldoende behuising, swak openbare dienste, dwelm- en alkohol-misbruik en sistemiese maatskaplike uitsluiting. Asive Dyani van SAFTU sê hierdie toestande hou verband met die makro-ekonomiese raamwerk wat die staat aanvaar het. Sy sê besnoeiingsbeleide het die openbare sektor se kapasiteit stelselmatig verswak en beïnvloed doeltreffende reaksie op misdaad sowel as die onderliggende oorsake daarvan:
# Die Vereniging van Staatsamptenare doen ‘n beroep op die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, om die salarisse van alle onbevestigde werknemers wat die stelsel uitgelig het onmiddellik op te skort, hangende fisiese en biometriese bevestiging. Die minister het tydens die departement se begrotingsrede onthul 14-miljoen-rand in belastingbetalersgeld word stelselmatig gekanaliseer na spookwerkers in die departement. Die vereniging se woordvoerder, Claude Naicker, sê dit is heeltemal onaanvaarbaar dat openbare fondse aangewend word om sindikate en korrupte individue te verryk:
# Die LUR van Onderwys in Gauteng, Lebogang Maile, sê hy het die Stad Tshwane opdrag gegee om gehoor te gee aan die beslissing van die Hooggeregshof in Pretoria dat die kragtoevoer na skole wat vroeër afgesny is weens onbetaalde eiendomsheffings, herstel moet word. Kragtoevoer na skole mag ingevolge die uitspraak ook nie weer afgesny word nie. Skole skuld die metro 51,7-miljoen-rand. Maile sê die hofbeslissing is belangrik omdat onderwys nie ‘n voorreg is wat op finansiële vermoë berus nie:
# Eskom toon steeds volgehoue verbetering in kragstelselprestasie en handhaaf netwerk-bestendigheid te midde van hoër winter-aanvraag, veral in die oggend- en aandspitstye. Die woordvoerder, Daphne Mokwena, sê Eskom het onlangs 365 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag bereik, die eerste volle jaar sonder kragonderbrekings sedert September 2018. Sy sê dit weerspieël ‘n merkbare herstel in die stelsel se betroubaarheid:
# Die Stad Kaapstad gaan ‘n nuwe openbare deelnameproses vir sy 2026/2027 begrotingswysigings bekendstel. Dit volg na ‘n uitspraak deur die Hooggeregshof in die Wes-Kaap wat die proses om munisipale tariewe te bepaal, verander het. Die stad sê die veranderinge sal waarskynlik lei tot hoër vaste water- en sanitasiekoste vir laer- en middelinkomste huishoudings, terwyl eiendomme met ‘n hoër waarde dalk minder sal betaal. Om die impak te versag, stel die stad voor dat die belastingvrye eiendomsdrempel verhoog word en verligting vir armlastiges uitgebrei word.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, het haar nuuskonferensie vir die Franse Ope kortgeknip as deel van ‘n 15‑minute‑beperking op mediaverpligtinge uit verset teen hul prysgeld. Spelers wil hê ‘n groter deel van die inkomste wat die Grand Slam-toernooie genereer, moet aan prysgeld toegeken word. Die 15‑minute‑beperking verteenwoordig die 15-persent van die inkomste wat die Franse Ope tans as prysgeld aanbied. Verskeie ander vooraanstaande spelers, insluitend die mans-wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, en die viermalige Franse Ope-kampioen, Iga Świątek, het Vrydag ook daaraan gehoor gegee.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….