Nuus 18:00
BULLETIN 22 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vier provinsies teken die meeste moorde aan
# Thoko Didiza sê president Ramaphosa het Parlement nie gevra om ampsklagproses te stop nie
# En, Motorsport: Lewis Hamilton sê hy is nie van plan om binnekort uit te tree nie
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê misdaadpatrone in Suid-Afrika toon steeds groot streeksverskille, ondanks ‘n algehele afname in moorde. Die meeste moorde landwyd – meer as 80-persent – is in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap aangeteken. Die Oos-Kaap het die hoogste moordsyfer met 14,3 moorde per 100-duisend mense, gevolg deur die Wes-Kaap. Cachalia sê verskeie polisiekantore is voortdurende misdaadbrandpunte:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê president Cyril Ramaphosa het die Parlement nie gevra om die ampsklagproses rondom die Phala Phala-saak te staak nie. Ramaphosa het die Parlement egter in kennis gestel dat hy die saak hof toe gaan neem. Volgens Didiza sal die Parlement wag vir die president se hofstukke, dan regsadvies inwin, en voortgaan met stappe om die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die ampsklagreëls in werking te stel:
# Die energiereguleerder, NERSA, het twee openbare raadplegings-prosesse van stapel gestuur namate Suid-Afrika na ‘n mededingende elektrisiteitsmark beweeg. Die reguleerder het dokumente vrygestel oor groothandelpryse vir elektrisiteit en oorgangsraamwerke vir opwekkingspryse. NERSA sê die voorstelle is gemik op die ondersteuning van ‘n billike, deursigtige en finansieel-volhoubare elektrisiteitsmark onder die Suid-Afrikaanse Groothandelsmark vir Elektrisiteit. Skriftelike voorleggings oor die prysmetodologie sluit op 26 Junie, terwyl voorleggings oor die raamwerk vir opwekkingspryse teen 6 Julie ingedien moet word.
# Ministers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap vergader by Skukuza in die Krugerwildtuin, Mpumalanga, om verskeie kwessies te bespreek, insluitend migrasie, wêreldwye konflikte, handelsonsekerheid en verskuiwende ekonomiese alliansies. Dit volg ná ‘n besluit in Maart deur die SAOG se Raad van Ministers om wêreldwye geopolitieke verwikkelings en die uitwerking daarvan op die streek te beoordeel. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se woordvoerder, Crispin Phiri, het in ‘n onderhoud met die SABC gewaarsku teen die oortreding van die wet te midde van voortgesette immigrasiebetogings:
# Motorsport: Die sewemalige Formule Een-kampioen, Lewis Hamilton, het nie enige planne om binnekort uit te tree nie. Die 41-jarige se kontrak met Ferrari strek tot einde volgende jaar. Hy het die seisoen belowend begin met die nuwe regulasies en in China die eerste keer die podium vir Ferrari gehaal. Hamilton is nou vyfde in die bestuurders-kampioenskap na vier wedrenne. Hy wil graag sien wat hy saam met Ferrari kan bereik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-154-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-515-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 101-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….