Nuus 17:00
BULLETIN 22 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die moordsyfer daal volgens jongste misdaadstatistieke
# Polio-virusstamme is in Kaapstad se afvalwater opgespoor
# En padwedlope, die Kaapstad marathon lok altesaam 44-duisend-500 inskrywings
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die jongste misdaadstatistieke vir die vierde kwartaal toon vordering met die vermindering van geweldsmisdaad, ondanks uitdagings wat verbind word met georganiseerde misdaad. Nasionale kontakmisdade het met 4,6-persent afgeneem, met sewe-duisend-405 minder gevalle teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. Moorde het ook met 9,5-persent gedaal, vanaf vyf-duisend-727 tot vyf-duisend-181. Cachalia sê die syfers weerspieël verbeterde wetstoepassingspogings en samewerking tussen gemeenskappe en wetstoepassers:
# Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes sê twee polio-verwante virusstamme is opgespoor in monsters van afvalwater uit ‘n suiweringsaanleg in Kaapstad. Die monsters is tydens roetine-omgewingsmonitering geneem, en geen menslike gevalle is opgespoor nie, terwyl ‘n uitbreking ook nie aangemeld is nie. Foster Mohale van die departement sê toesig is opgeskerp. Hy vra mense om waaksaam bly en alle vermeende simptome by gesondheidsorg-geriewe aan te meld:
# Die GOOD-party sê die Stad Tshwane se 2026/2027 konsepbegroting dui op die voortgesette verbetering in die metro se finansies. Die begroting, wat ‘n bedryfsinkomste van 57,1-miljard-rand en uitgawes van 55,6-miljard-rand insluit, gee voorrang aan onder andere finansiële bestendigheid, ekonomiese herlewing en beleggingsaantrekking. Sarah Mabotsa van die party sê Tshwane se groei en herstel word duidelik gesien in die toenemende beleggersvertroue in die privaat sektor:
# China bou netwerke van robot-opleidingsentrums waar instrukteurs ure deurbring om mensagtige masjiene te leer hoe om goedere te sorteer, rakke te vul en verwante take uit te voer. Die land het in 2025 meer as 290-duisend industriële robotte i geïnstalleer, wat meer as die helfte van die totale wêreldwye ontplooiings uitmaak. Staatsgesteunde voorspellings beraam dat China se mensagtige robotmark teen 2050 nagenoeg 13,78-duisend-miljard-rand werd sal wees. Dit weerspieël China se industriële strategie om opkomende tegnologieë te oorheers en sy posisie in die wêreldwye voorsieningskettings te versterk.
# Padwedlope: Die Kaapstadse marathon verwag Sondag 27-duisend atlete, insluitend wêreldklas elite- en rolstoel-atlete. ‘n Verdere 17-duisend-500 atlete sal deelneem aan die gepaardgaande Vredeswedlope oor tien- en vyf-kilometer, en aan môre se Kaapstadse roetemarathons oor 22- en 11-kilometer. Dit beteken daar gaan altesaam 44-duisend-500 deelnemers wees, wat dit een van die grootste wedloop-byeenkomste in Afrika maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-398-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-525-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 100-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….