Nuus 15:00
BULLETIN 22 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Suid-Afrikaanse aktivis beweer Israelse magte het hom gemartel oor sy nasionaliteit
# Die Indië-Afrika-beraad word uitgestel weens die Ebola-uitbreking
# En rugby: Cupido en Human is ingesluit in die Blitsbokke se groep vir die Europese toer
# Die Suid-Afrikaanse aktivis Ebrahim Peters beweer Israelse magte het hom gemartel weens sy nasionaliteit nadat hy tydens ‘n humanitêre sending na Gaza aangehou is. Hy was onder ses lede van die Global Sumud-flottielje Suid-Afrika wat op see voorgekeer is. Die groep is intussen vrygelaat en word môre in Suid-Afrika terug verwag. Peters sê hulle was in internasionale water en is sonder enige aanklagte in Israel aangehou:
# Die vakbondfederasie Cosatu verwelkom die Internasionale Geregshof se uitspraak wat werkers se basiese reg beskerm om te staak. Die hof het gelas die reg om te staak word beskerm ingevolge die Internasionale Arbeidsorganisasie se 1948-verdrag oor Vryheid van Omgang. Matthew Parks van Cosatu sê om te staak is ‘n kerninstrument van gesamentlike bedinging:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is geskok oor die verdwyning van miljoene rand uit die Department van Indiensneming en Arbeid se Vergoedingsfonds. Ouditeure het vermiste dokumente, vals bankrekeninge, swakhede in kubersekerheid en ‘n verlies van 71-miljoen-rand in die afgelope twee boekjare gevind. Claude Naicker van die vereniging sê stelselmatige kwesbaarhede wat die fonds tans ondervind, het ‘n speelgrond geskep vir sindikate en korrupte mense wat sonder vervolging daarmee wegkom:
# Die Afrika-Unie en Indië het hul forumberaad uitgestel weens die verergerende Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo. Gesondheidsbeamptes sê die uitbreking het versprei na ‘n gebied in die Suid-Kivu-provinsie wat deur M23-rebelle beheer word. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê meer as 139 sterftes en 600 moontlike gevalle is aangeteken. Pogings om die uitbreking te beperk, word bemoeilik deur konflik, ‘n tekort aan hulp en die siekte wat na digbevolkte stedelike gebiede versprei.
Rugby: Die agterspelers Dewald Human en Gino Cupido is ingesluit in die Springbok-sewesgroep wat Sondag na Spanje en Frankryk reis om aan die laaste twee seweswêreldkampioenskapstoernooie in Valladolid en Bordeaux deel te neem. Hulle was beseer toe die Blitsbokke verlede maand in Hongkong die eerste van die drie byeenkomste gewen het. Afrigter Philip Snyman sê Human gee die span ‘n ekstra losskakel-moontlikheid terwyl Cupido vir Donavan Don op senter vervang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-13 teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-173-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-513-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….