Nuus 14:00
BULLETIN 22 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi verleng nie die kommentaar-tydperk oor die Wetsontwerp op Beskermde Openbaarmakings nie
# Die VN is bekommerd oor ‘n vertraging met Gaza se oorgangsplan
# En sokker: Iranse spelers doen in Turkye aansoek vir Kanadese visums
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die tydperk vir openbare kommentaar oor die Wetsontwerp op Beskermde Openbaarmakings sal nie verleng word nie. Burgerlike organisasies het uitstel gevra weens ernstige tekortkominge en beperkte openbare bewustheid. Die wetsontwerp wil Suid-Afrika se verklikker-beskermingsraamwerk hersien deur beter veiligheidsmaatreëls, duideliker aanmelding-prosedures en finansiële aansporing vir mense wat oortredings ontbloot. Die departement se woordvoerder, Palesa Rammitlwa, sê hulle het baie kommentaar ontvang:
# Die Departement van Binnelandse Sake in KwaZulu-Natal sê slegs twee uit 457 migrante wat in Durban verwerk is, was onwettig in die land. Die groep is na ‘n skuiling verskuif nadat hul gevra het vir beskerming teen anti-migrantegroepe. Die departement se bestuurder, Cyril Mncwabe, sê een persoon het ‘n bedrieglike permit gehad, terwyl ‘n ander ‘n afgekeurde permitaansoek ontvang het en dus nie gekwalifiseer het om in Suid-Afrika te bly nie:
# Die energiereguleerder, NERSA, het twee openbare raadplegings-prosesse van stapel gestuur namate Suid-Afrika na ‘n mededingende elektrisiteitsmark beweeg. Die reguleerder het dokumente vrygestel oor groothandelpryse vir elektrisiteit en oorgangsraamwerke vir opwekkingspryse. NERSA sê die voorstelle is gemik op die ondersteuning van ‘n billike, deursigtige en finansieel-volhoubare elektrisiteitsmark onder die Suid-Afrikaanse Groothandelsmark vir Elektrisiteit. Skriftelike voorleggings oor die prysmetodologie sluit op 26 Junie, terwyl voorleggings oor die raamwerk vir opwekkingspryse teen 6 Julie ingedien moet word.
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies sê vertragings met die instelling van ‘n oorgangsplan vir Gaza wat deur die Veiligheidsraad gesteun word, sal slegs lyding vererger en herstel ondermyn. ‘n Voorstel wat in November aanvaar is, onderskryf die Amerikaanse vredesplan vir die beëindiging van die konflik, magtig die Vredesraad-oorgangsowerheid en steun ‘n internasionale bestendigingsmag wat die weg baan vir Israelse onttrekking. Die VN se adjunk-spesiale koördineerder vir die Midde-Oosterse vredesproses, Ramiz Alakbarov, sê die huidige wapenstilstands-raamwerk bied steeds die beste geleentheid om hernude grootskaalse oorlog te voorkom en Gaza te begin herbou.
# Sokker: Lede van Iran se nasionale span het in Turkye aansoek gedoen vir Kanadese visums voor die Wêreldbeker-toernooi in Noord-Amerika. Die groep is tans in Ankara voordat hulle na ‘n oefenkamp aan Turkye se Middelandse See-kus verskuif. Hulle sal vandaar na Amerika reis, waar hulle al drie hul groepswedstryde sal speel. Hulle moet ook toegang tot Kanada kry as hulle tot die uitkloprondes vorder. Die toernooi, wat deur Kanada, Amerika en Mexiko aangebied word, begin die 11de van volgende maand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-10 teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-233-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-529-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….