Nuus 13:00
BULLETIN 22 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus is bereid vir koalisie-ooreenkomste in alle provinsies, maar nie met die ANC, die EFF of die MK-party nie
# Transnet stel drie Wes-Kaapse stasies vir private bieërs beskikbaar
# En rugby: Erasmus sê die belyningskamp se doelwitte is bereik
# Die Vryheidsfront Plus se leier, Corné Mulder, sê koalisies is onvermydelik voor November se plaaslike regeringsverkiesing, en die party ondersoek landwyd koalisie-keuses. Hy het in Centurion gesê hy sal nie met die ANC, die EFF of die MK-party op munisipale vlak saamerk nie. Mulder het aan die SABC gesê al is die VF Plus deel van die regering van nasionale eenheid, tree dit nie as ‘n ware koalisie op nie:
# Transnet Spoorweg se infrastruktuurbestuurder het privaat ondernemings uitgenooi om te bie vir ‘n huurkontrak, ontwikkeling en die bedryf van drie stasiegeriewe in die Wes-Kaap. Dit behels die stasies van Dal Josafat, Hugenote en Bitterfontein, met ‘n huurooreenkoms van minstens tien-jaar. Suksesvolle bieërs sal stasiegebiede, insluitend pakskure en kleinhandelgeboue, opknap en in stand hou. Uitvoerende hoof Moshe Motlohi sê die projek het ten doel om dienslewering te verbeter en ekonomiese waarde deur privaat sektor-deelname te ontsluit. Voorleggings sluit op 23 Junie.
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het die LUR vir Landbou, Landelike en Ekonomiese Ontwikkeling, Vuyiswa Ramokgopa, as waarnemende premier aangestel. Ramokgopa sal tot Maandag in die amp dien, terwyl Lesufi nie in die provinsie is nie. Die aanstelling is in ooreenstemming met die Grondwet. Die Gautengse regering sê Ramokgopa sal alle verantwoordelikhede, magte en pligte van die premier se kantoor oorneem om ‘n gladde verloop van bedrywighede te verseker.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê daar is goeie tekens dat ‘n ooreenkoms binne bereik is om die Iranse oorlog te beëindig. Pakistan en ander streeksbondgenote werk aan ‘n diplomatieke oplossing. Iran versper sedert Februarie die Seestraat van Hormuz, wat ‘n deurgang vir ‘n vyfde van die wêreld se olie-uitvoere is. Rubio sê enige diplomatieke ooreenkoms sal onuitvoerbaar wees as Iran ‘n tarief op die seestraat oplê:
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê die afgelope oefenkamp in Kaapstad was ‘n sukses, met spelers wat ten volle in ooreenstemming gebring is met die strukture en stelsels. Die groep van 40 het tien nuwelinge ingesluit. Nog ‘n oefenkamp sal volgende maand gehou word ter voorbereiding vir die dubbel-kragmeting tussen die Springbokke en die Barbarians, en die SA A-span teen Zimbabwe. Erasmus sê die meeste van die doelwitte is bereik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-12 teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-213-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-519-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….