Nuus 06:00
BULLETIN 22 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Thabo Mbeki sê Afrika-migrante moet nie skuld kry vir Suid-Afrika se probleme nie
# Die ontruiming van meer as 800 Ghanese uit Suid-Afrika is vertraag
# En rugby: Die Junior Bokke verniel Chili in die openingswedstryd van die Internasionale Onder-20-reeks
# Oudpresident Thabo Mbeki het die toenemende teen-migrante-sentiment in Suid-Afrika veroordeel. Dit is te midde van wydverspreide optogte teen ongedokumenteerde migrante. Suid-Afrika is die tuiste van na raming drie-miljoen migrante. Die regering hersien tans sy immigrasiebeleid om migrasiedruk beter te bestuur en grensbeheer te versterk. Mbeki het gister tydens ‘n openbare bespreking oor migrasie en Afrika-integrasie gewaarsku om nie Afrika-migrante verantwoordelik te hou vir Suid-Afrika se ekonomiese en maatskaplike probleme nie:
Intussen het die Ghanese ministerie van Buitelandse Sake gesê hy het die beplande ontruiming van Ghanese wat aangedui het dat hulle onveilig voel in Suid-Afrika, uitgestel. Meer as 800 Ghanese het by hul Hoë Kommissaris in Pretoria geregistreer om ontruim te word weens die jongste vlaag xenofobiese aanvalle. Die ministerie sê, gegewe die betrokke getalle en die Suid-Afrikaanse wetlike voorwaardes waaraan voldoen moet word, insluitend verpligte passasierskeuring, multi-institusionele koördinering en vlugpermitte, is die beplande ontruiming met ‘n paar dae uitgestel.
# Statistieke Suid-Afrika sê kleinhandelverkope het in Maart met 2,6-persent op ‘n jaargrondslag gestyg. Die groei is hoofsaaklik gedryf deur algemene handelaars en ander kleinhandelaars, terwyl tekstiel, klere en skoeisel ook sterk winste oor die eerste kwartaal getoon het. Kleinhandelaars in gespesialiseerde voedsel, drank en tabak het egter ‘n afname aangeteken. Raquel Floris van Statistiek SA sê die maandelikse verkope was meesal onveranderd en het geringe groei getoon in vergelyking met Februarie, na gemengde prestasie vroeër die jaar:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê die meeste nie-regeringsorganisasies vir geestesgesondheidsdienste in die provinsie het betaling ontvang, met slegs ‘n paar wat vertragings ondervind as gevolg van administratiewe en voldoeningsprobleme. Volgens die departement het sommige organisasies onvolledige of verouderde dokumente ingedien, insluitend belastingklaringsprobleme, wat reggestel word voordat betaling gefinaliseer kan word. Steve Mabona van die departement sê die vertragings is nie doelbewus nie:
# Die onafhanklike ekonoom, John Loos, sê hoewel inflasie gewoonlik as negatief gesien word, kan die hoër inflasie in die Wes-Kaap moontlik ‘n teken wees van sterker belegging, werkskepping en inkomstegroei. Die provinsie het in April die hoogste inflasiekoers gehad teen 4,8-persent, hoofsaaklik gedryf deur die sterk vraag na behuising, vervoer en dienste. Loos sê stygende huurgeld en hoër besteding in byvoorbeeld toerisme en onderwys dui op ‘n meer aktiewe ekonomie in vergelyking met ander provinsies.
# Rugby: Die Junior Springbokke het die Internasionale Onder-20-reeks geopen met ‘n oortuigende oorwinning van 97-0 oor Chili by Rondebosch Boys’ High School in Kaapstad. Suid-Afrika het 15 drieë gedruk, insluitend ‘n driekuns deur Lindsey Jansen en Risima Khosa, met Vusi Moyo wat 22 punte in die eensydige wedstryd oorgeskop het. Die afrigter Kevin Foote sê ten spyte van die ongebalanseerde telling, het die wedstryd steeds waardevolle lesse gebied. In hul openingswedstryd het Georgië Fidji met 29-23 geklop. Die Junior Bokke sal Dinsdag teen Fidji te staan kom by Wynberg Boys’ High School, terwyl Chili teen Georgië sal uitdraf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-544-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-541-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 101-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….