Nuus 07:00
BULLETIN 21 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa wil dokumente beteken aan twee regters wat die Phala Phala-verslag saamgestel het
# Minister Godongwana sê hy is geregtig om die brandstofheffing aan te pas
# En die voormalige Kubaanse leier Raúl Castro en vyf ander is deur die VSA aangekla
# President Cyril Ramaphosa se regspan het begin met ‘n hersieningsaansoek teen die Artikel 89-paneel se verslag wat bevind het daar is ʼn moontlike saak teen hom oor die inbraak op sy plaas, Phala Phala. Die regspan het hoofregter Mandisa Maya toestemming gevra om dokumente te beteken aan twee gewese senior regters wat die verslag saamgestel het: oud-hoofregter Sandile Ngcobo en voormalige Hooggeregshof-regter, Thokozile Masipa. Die Wet op Hoër Howe vereis dat litigante in siviele sake toestemming vra voor ʼn regsgeding teen ʼn regter aanhangig gemaak word.
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, voer aan hy is geregtig om die brandstofheffing na sy goeddunke en in openbare belang aan te pas, soos die Doeane- en Aksynswet bepaal. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het uitspraak voorbehou in die EFF se aansoek waarin hy die minister van Finansies se gesag om die brandstofheffing te bepaal en aan te pas, uitdaag. ʼn EFF-woordvoerder, Nazier Paulsen, sê die verhoging in brandstofheffing wat Godongwana in sy Februarie-begrotingsrede aangekondig het, moes vergoed vir die mislukte BTW-verhoging verlede jaar:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid verwelkom ʼn reeks deurbrake in die stryd teen bedrog met die Covid-19 TERS-skema. Arrestasies in Mpumalanga, ʼn skuldigbevinding in die Vrystaat, en beslaglegging op bates wat deur misdaad verkry is verteenwoordig meer as 27-miljoen-rand wat van die staat gesteel is. In Mpumalanga is drie mense gearresteer wat na bewering vals werknemers geskep en bedrieglike eise by die WVF-TERS-skema ingedien het. Die ondersoekeenheid sê hy sal voortgaan om aanspreeklikheid en teruggawe van gesteelde staatsfondse te verseker.
# Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, sê dringende nasionale steun is nodig om hulp te versnel aan gemeenskappe wat deur gure weer in die provinsie geraak is. Dit volg na die klassifisering van ’n provinsiale ramp ná wydverspreide skade. Die woordvoerder van die premier, Regan Thaw, sê herstelpogings is aan die gang, met elektrisiteit wat reeds herstel is aan gebiede wat die ergste getref is, terwyl opruiming en herstelwerk voortduur:
# Die Amerikaanse regering het die voormalige Kubaanse president, Raúl Castro, en vyf ander aangekla. Dit hou verband met die 94-jarige Castro se vermeende aandeel in die bevel om in 1996 twee burgerlike vliegtuie van die Kubaans-Amerikaanse groep, Brothers to the Rescue, af te skiet. Castro, wat destyds minister van Verdediging was, het volgens berigte opdrag gegee vir die aanval waarin vier mense, insluitend drie Amerikaanse burgers, dood is. Die waarnemende prokureur-generaal, Todd Blanche, sê nasies en hul leiers kan nie Amerikaners teiken sonder om verantwoording te doen nie:
# Rugby: Kaptein Ruhan Nel en vleuel Seabelo Senatla se terugkeer van beserings versterk die Stormers span vir volgende naweek se Verenigde Rugbykampioenskap-kwarteindstryd teen Cardiff in Kaapstad. Nel het herstel van ‘n kuitbesering terwyl ‘n beenbesering Senatla vir die grootste deel van die seisoen uit die span gehou het. Die gashere wil wraak neem vir verlede naweek se groepfase-nederlaag weg teen dieselfde Walliese span, wat die Stormers derde op die punteleer laat. Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson, sê dis wonderlik om twee sleutelspelers terug te hê vir hierdie belangrike ontmoeting.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-832-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-557-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 101-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….