Nuus 06:00
BULLETIN 21 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering weier ATM se mosie van wantroue teen Ramaphosa
# Die suikerrietseisoen begin sterk met ‘n toename van 48-persent in lewering
# En krieket: Daar is nog kaartjies beskikbaar vir die Nuwejaarstoets teen Engeland op Nuweland
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het ‘n versoek van die African Transformation Movement afgekeur om ‘n mosie van wantroue teen president Cyril Ramaphosa in te dien. Die mosie spruit voort uit die uitspraak van die Konstitusionele Hof, wat bevind het dat die Parlement onwettig opgetree het deur ‘n ampsklagondersoek teen die president te keer. In reaksie op die mosie het Didiza parlementêre reëls en prosedurele vereistes aangehaal. ATM sê hulle glo Didiza beskerm die president en het nie geleer uit die foute van haar voorganger, Nosiviwe Mapisa-Nqakula nie.
# Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekers sê die 2026/2027 suikerrietmeulseisoen het op ‘n positiewe noot begin, met aflewerings wat op ‘n jaargrondslag met 48-persent gestyg het. Die bedryf waarsku egter dat onsekerheid rondom Tongaat Hulett en die stygende suikerinvoere steeds aansienlike druk op plaaslike produsente plaas. Die voorsitter van die vereniging, Higgins Mdluli, sê goedkoop ingevoerde suiker verdring plaaslike produksie en bedreig plattelandse werksgeleenthede en lewensbestaan. Mdluli doen ‘n beroep op dringende tariefhervormings om die bedryf te beskerm en sy langtermyn-volhoubaarheid te verseker.
# Die Afrika Mayibuye-beweging sê die gewilde kultuurfiguur Gezani “Papa Penny” Kobane het by die party aangesluit voor die plaaslike regeringsverkiesing in November. Dit volg nadat hy uit die MK-party bedank en as die party se parlementslid uitgetree het. Partyleier Floyd Shivambu het aan die media gesê Kobane sal help om hul veldtog in Giyani en omliggende gemeenskappe in Limpopo te versterk:
# Die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, sê sy administrasie het sake onder beheer ten spyte van die swak toestand van die metro. Dit volg nadat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, kommer uitgespreek het oor swak finansiële beheermaatreëls in die metro. Morero het gister in sy stadsrede erken dat Johannesburg se infrastruktuur en nutsdienste steeds onder druk is. Hy sê die metro se gekombineerde infrastruktuur-agterstand beloop nou meer as 220-miljard-rand:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku dit kan tot nege maande duur voordat ‘n entstof teen die Bundibugyo-virus, wat die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda veroorsaak, beskikbaar is. Daar is tot dusver 600 vermeende Ebola-gevalle en 139 sterftes aangemeld. Die direkteur-generaal van die WGO, Tedros Adhanom Ghebreyesus, sê die organisasie se noodkomitee het saamgestem dat die situasie nie ‘n pandemie-noodgeval is nie:
# Krieket: Nog kaartjies sal beskikbaar gestel word vir die Nuwejaarstoets teen Engeland in Kaapstad. Krieket Suid-Afrika sê die aankondiging dat Nuweland uitverkoop is, was deels bemarkingsgedrewe en al die kaartjies is nie uitverkoop nie. Hy ontken ook dat die meeste kaartjies vir Engeland se ondersteuners opsy gesit is. Die toets is die derde en laaste van die besoekers se eerste rooibalreeks in Suid-Afrika sedert 2019. Die eerste toets is op 17 Desember in Johannesburg en die tweede die 26ste in Centurion.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-399-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-541-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 101-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….