Nuus 18:00
BULLETIN 20 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof sluit die Nafiz Modack-verdedigingsaak af met die verhoor wat uitgestel word
# Drie vermeende ontvoerders sterf in ‘n skietgeveg met die polisie in KwaZulu-Natal
# Minister Willie Aucamp vra dringende wêreldwye klimaatsamewerking voor die Kopenhagen-spitsberaad
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het die saak teen die vermeende misdaadbaas Nafiz Modack en sy medebeskuldigde tot Maandag uitgestel. Regter Robert Henney het gelas Modack se verdedigingsaak moet afgesluit word nadat hy versuim het om nuwe getuies te bekom. Modack staan tereg op 120 aanklagte, insluitend die sluipmoord op die speurder van die Anti-Bende-eenheid, Charl Kinnear, in 2020. Regter Henney het beslis die verhoor sal voortgaan met die mede-beskuldigde, Ziyad Poole, wat op 122 aanklagte teregstaan:
# Drie vermeende ontvoerders is dood in ‘n skietgeveg met die KwaZulu-Natalse polisie in Mariannhill nadat beamptes reageer het op inligting oor waar hulle hul bevind. Die polisie sê die mans is gesoek in verband met ‘n ontvoering- en bedrogsaak in Greenwoodpark, sowel as die onwettige besit van vuurwapens. Beamptes wou hulle voertuig aftrek, maar hulle het gevlug. Dit het gelei tot ‘n hoëspoed-jaagtog en ‘n skietgeveg waarin al drie dood is.
# Die DA in Gauteng vra die provinsiale regering om die vernietigende begroting-besnoeiing van 64-persent by Kwintiel 5-skole onmiddellik om te keer. Die party het ‘n griefskrif wat deur meer as 16-duisend inwoners onderteken is, amptelik aan die Gautengse portefeuljekomitee oor Onderwys oorhandig. Michael Waters van die DA sê hierdie besnoeiings is nie abstrakte syfers op ʼn sigblad nie. Hy sê dit het ʼn regstreekse uitwerking op klaskamers, leerderveiligheid, onderwysgehalte en kinders se toekoms:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, doen ‘n beroep op dringende wêreldwye samewerking voor die 2026 Kopenhagen Ministeriële Spitsberaad oor klimaatsoptrede. Hy sê Suid-Afrika bly verbind tot multilateralisme gefokus op implementering, klimaatsveerkragtigheid en ‘n regverdige oorgang na ‘n lae-koolstof-ekonomie. Aucamp sê ontwikkelende lande het finansiële en tegniese ondersteuning nodig om groen ekonomiegeleenthede te ontsluit. Hy het ook die behoefte beklemtoon vir sterker internasionale vennootskappe oor aanpassing, versagting, en innovering om toenemende wêreldwye klimaatverwante uitdagings aan te spreek.
# Sokker: Orbit College FC het bevestig dat kaartjies uitverkoop is vir Saterdag se deurslaggewende Premierliga-wedstryd teen Orlando Pirates. Dis binne vyf uur opgeraap. Die wedstryd waarna talle geesdriftiges uitsien, sal op die Mbombela-stadion in Mpumalanga plaasvind, met duisende Buccaneers-ondersteuners wat na verwagting daarheen sal stroom. Pirates kan die liga die eerste keer in 14-jaar wen met ‘n oorwinning. Daar is ook baie op die spel vir Orbit College, aangesien ‘n oorwinning kan help om hul topliga-status te verseker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-116-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-483-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 105-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….