Nuus 15:00
BULLETIN 20 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brandstofpryse jaag inflasie op
# Die Inkomstediens stel ‘n nuwe voertuigverklaring-stelsel bekend
# En rugby: Engeland se afrigter verdedig sy keuse van die Suid-Afrikaans-gebore Benhard Janse van Rensburg
# Verbruikersinflasie het verlede maand tot 4,0-persent gestyg vanaf 3,1-persent in Maart, hoofsaaklik aangevuur deur skerp stygings in brandstofpryse. Dit is die hoogste syfer sedert Augustus 2024. Brandstofkoste het maand-tot-maand met 18,2-persent gestyg, die hoogste in 18-jaar, met petrolpryse wat met 15,2-persent gestyg het en dieselpryse met 35,4-persent. Vervoerkoste het ook gestyg, veral vliegkaartjies. Statistieke SA se hoofdirekteur vir Prysstatistieke, Patrick Kelly, sê brandstof is steeds die vernaamste aandrywer van prysdruk:
# Forum for South Africa vra die minister van Kleinsake-ontwikkeling, Stella Ndabeni-Abrahams, om ‘n volledige lys van begunstigdes van die Spaza-winkelfonds te publiseer en ‘n omvattende beoordeling te verskaf van die 79,6-miljoen-rand wat bestee is. Sy het aangekondig dat die regering finansiële steun toegeken het aan spaza-winkeleienaars reg oor die land. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê daar is geen duidelike, toeganklike lys van ontvangers nie:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, vra die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, om moontlike kragonderbrekings in die stad te voorkom weens sy groeiende skuld aan Eskom. Morero waarsku pligsgetroue belastingbetalers kan geraak word as kragvoorsiening onderbreek word weens die toenemende kommer oor munisipale skuld van sowat 5,2-miljard-rand. Hy vra dringende ingryping om inwoners, ondernemings en noodsaaklike dienste teen wydverspreide kragonderbrekings te beskerm.
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens sal vanaf Junie volgende jaar vereis dat alle buitelands-geregistreerde voertuie op sy Reisigerbestuurstelsel verklaar word voor dit die land binnekom of verlaat. Kommissaris Johnstone Makhubu sê dis daarop gemik om doeane-bedrywighede te vernuwe, grensveiligheid te versterk en die verwerking van reisigers te verbeter. Tydelike invoerpermitte sal vir ses maande geld en veelvuldige grensoorgange toelaat. Hy waarsku versuim om te voldoen of die verskaffing van vals inligting kan tot vertragings en handhawings-optrede lei. Amptenare sal reisigers bystaan wat nie hul verklarings aanlyn kan voltooi nie.
# Rugby: Engeland se afrigter, Steve Borthwick, het sy besluit verdedig om die Suid-Afrikaans-gebore senter Benhard Janse van Rensburg na sy oefenkamp vir die Nasiesbeker-kampioenskap te nooi. Die 29-jarige voormalige SA-20-speler voltooi op 8 Julie sy vyfjaar-tydperk om hom verkiesbaar te maak. Die Rugby-unie het Wêreldrugby oorreed om die datum van November af te vervroeg. Borthwick sê hy het ‘n baie hoë dunk van Janse van Rensburg:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-24 teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-426-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-493-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….