Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Leeus sal waarskynlik sonder twee van sy staatmakers, die Springbok-skrumskakel Morné van der Berg en die flank Ruan Venter, moet klaarkom vir volgende naweek se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen Leinster in Ierland. Albei spelers het reeds teruggekeer huis toe, terwyl die res van die groep in Ierland gebly het na die afgelope naweek se groepswedstryd teen Munster. Die Johannesburgse span is ook bekommerd oor die fiksheid van die kaptein, Francke Horn, en die senter Henco van Wyk. Afrigter Ivan van Wyk glo albei kan betyds herstel vir die kragmeting met Leinster.
Ondersteuners kan intussen steeds stem vir die VRK se drie van die jaar, met vier Suid-Afrikaanse spelers wat benoem is. Hulle is die Bulle, die Springbok-losskakel Handré Pollard vir die wedstryd teen Scarlets, en die Junior Springbok-vleuel, Cheswill Jooste, vir sy drie teen Munster. Wandisile Simelane van die Stormers is benoem vir die wedstryd teen Ospreys, en Nico Steyn van die Leeus vir sy drie teen die Bulle. Die Stormers se Bok-voorspeler, Deon Fourie, het verlede jaar die toekenning gewen. Die wenner word vroeg volgende maand aangekondig.
# Sokker: Arsenal is die eerste keer in 22 jaar die Premierliga-kampioen. Die Gunners se lang wag is beëindig toe Manchester City gisteraand een-elk gelykop gespeel het teen Bournemouth, wat hulle twee punte agter die span van Mike Arteta gelaat het. Arsenal se sukses volg nadat hulle vir drie agtereenvolgende seisoene tweede geëindig het. Arteta word hiermee die eerste gewese Premierliga-speler wat as afrigter die trofee kan lig. Die oorhandiging van die trofee vind Sondag plaas ná hul laaste wedstryd van die seisoen teen Crystal Palace.
# Krieket: Rajasthan Royals het sy kanse verbeter om die Indiese Premierliga se uitspeelronde te haal toe hy Lucknow Super Giants met sewe paaltjies verslaan het. Mitchell Marsh het 96 van 57 balle bygedra om Super Giants tot 220 vir vyf te neem. Die 15-jarige Vaibhav Sooryavanshi het daarna 93 van 38 balle gemoker. Hy en kaptein Yashasvi Jaiswal het ‘n aanvangsvennootskap van 75-lopies opgestel en Rajasthan het die wenteiken in die laaste boulbeurt gehaal. Hulle is nou vierde met een groeps-wedstryd oor.
# En tennis: Die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz, het aan Wimbledon onttrek terwyl hy herstel van ‘n pols-besering. Dit hou hom ook uit die Franse Ope, waar hy die verdedigende kampioen is. Die Spanjaard het nog nie weer deelgeneem sedert hy verlede maand aan die Barcelona-ope onttrek het nie. Die 23-jarige sewemalige Grand Slam-kampioen sê hy herstel goed, maar is nog nie reg om mee te ding nie. Alcaraz het vanjaar die jongste man geword wat ʼn loopbaan-Grand Slam behaal toe hy die Australiese Ope gebuit het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….