Nuus 12:00
BULLETIN 20 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA betwis die Gesondheidsdepartement se standpunt dat die Konstitusionele Hof-uitspraak nie betrekking het op die Nasionale Gesondheidsversekering nie
# Die George-munisipaliteit vra inwoners aan die kus om deel te neem aan ‘n opname oor die uitwerking van die storm
# En rugby: Vier Suid-Afrikaners is in die wedloop vir die Verenigde Rugbykampioenskap se drie van die jaar
# ActionSA verwerp die Departement van Gesondheid se poging om die belangrikheid van die Konstitusionele Hof se baanbrekersuitspraak oor die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering te onderspeel. Artikels 36 tot 40 is ongrondwetlik verklaar. Woordvoerder Kgosi Letlape sê die departement beweer die uitspraak hou nie verband met die Nasionale Gesondheidsversekering nie. Hy sê die departement het self aangevoer die skema is ‘n kernpilaar in die instelling van die wet:
Nehawu sê intussen die uitspraak is nog ‘n terugslag vir die stryd om voldoende en toeganklike gesondheidsorg. Lwazi Nkolonzi van die vakbond sê die uitspraak versterk die koalisie van groot kapitaal in hul pogings om die instel van internasionale gesondheidsdekking te laat ontspoor:
# Die MK-party se eerste adjunkpresident en parlementêre leier, John Hlophe, is een van drie partylede wat op die Parlement se ampsklagkomitee van 31 lede aangewys is. Die ander twee is die hoofsweep, Mmabatho Mokoena-Zondi, en Khanyisile Litchfield-Tshabalala. Die komitee moet bepaal of president Cyril Ramaphosa sy ampseed verbreek het met die beweerde verswyging van die inbraak op sy plaas, Phala Phala, in Limpopo. Die party sê hy het volle vertroue dat die drie lede die party se belange met integriteit en goeie oordeel sal verteenwoordig.
# Die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap vra inwoners om deel te neem aan ‘n opname oor die uitwerking van die onlangse stormweer op strande, duine en kuseiendomme. Die munisipaliteit se woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, het inwoners aangemoedig om verslag te doen oor dit wat hulle tydens of na die storm waargeneem het. Dit sluit in erosie, oorstromings, manier waarop branders breek en skade aan kus- en nabygeleë eiendomme:
# Rugby: Ondersteuners kan steeds stem vir die Verenigde Rugbykampioenskap se drie van die jaar, met vier Suid-Afrikaanse spelers wat benoem is. Hulle is die Bulle, die Springbok-losskakel Handré Pollard vir die wedstryd teen Scarlets, en die Junior Springbok-vleuel, Cheswill Jooste, vir sy drie teen Munster. Wandisile Simelane van die Stormers is benoem vir die wedstryd teen Ospreys, en Nico Steyn van die Leeus vir sy drie teen die Bulle. Die Stormers se Bok-voorspeler, Deon Fourie, het verlede jaar die toekenning gewen. Die wenner word vroeg volgende maand aangekondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-33 teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-151-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-481-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….